Mobirise

Oordenking 30 Sept 2021 Hebr 11:8-16

Wanneer 'n mens oor 'n balk moet loop wat oor 'n afgrond geplaas is, is daar een goue reël wat jy moet onthou: Moenie afkyk nie, kyk ver! Die versoeking is natuurlik daar om te kyk of jou voete reg geplaas is op die balk. Dit is dan onmoontlik om nie ook die diepe afgrond onder jou raak te sien nie. Jy verloor perspektief en daarmee ook jou balans.

Hierdie reël geld ook vir die voetpad van die lewe. Jy moet leer om jou oog op die einddoel te hou. Dit gee jou perspektief en balans om vandag oor die daaglikse hindernisse te kom. Dit gebeur ook met gelowiges dat ons vasval in die probleme van elke dag en so balans verloor. Hou jou oog op die wenpaal!

God het vir Abraham geroep om weg te trek na 'n vreemde land. Hy kon vasgeval het met die eerste uitdaging. Ons lees egter in ons teks: "Hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou uitkom. Hy het die beloofde land bereik, want hy het uitgesien na die stad wat vaste fondamente het en waarvan God self die ontwerper en bouer is."

Dit beskryf ook ons geloofsreis in hierdie tyd. Christene se probleem is dat ons die einddoel van ons geloof uit die oog verloor. Ons begin fokus op die opwinding van die oomblik, soek kitsoplossings op probleme en 'n salige lewe hier en nou. Dit is nie hoe dit werk nie. Geloof is 'n langtermyn saak. Dit is nie 'n vinnige resep na sukses nie.

Vers 13 beskryf dit mooi: "Terwyl hulle steeds geglo het, het al hierdie mense gesterwe sonder om te verkry wat beloof is, maar hulle het dit uit die verte gesien en daaroor gejuig, en hulle het erken dat hulle hier op aarde slegs vreemdelinge en bywoners is."

Ons is dus christene met 'n langtermyn roeping. Ons wy ons hele lewe daaraan om lief te hê, diens te lewer, onreg te bestry en lyding te versag. Ons beloning is nie hier nie, maar dit is nie waarom ons dit doen nie. Ons kan met die oë van geloof sien waarheen God met ons oppad is, daarom begin ons nou reeds bou aan 'n nuwe toekoms. Alhoewel ons nog nie alles sien en verstaan nie, bly ons nogtans vertrou dat alles ten goede sal uitwerk.

Die Bybel praat ook baie oor hoop. Hoop word in vers 15-16 so beskryf: "As hulle terug verlang het na daardie land waaruit hulle weggetrek het, sou hulle die geleentheid gehad het om daarheen terug te gaan. Maar hulle het na 'n beter vaderland, dit is die hemelse, verlang. Daarom is God nie skaam om hulle God genoem te word nie; trouens, Hy het vir hulle 'n stad gereed gemaak."

Ons roeping as gelowiges in die dae is om te sien wat ander mense nie sien nie. Ons sien God se droom vir sy mense raak. Dit help ons om bietjie verder te kyk as ons eie groep en eie belange. Ons besef dat God mense saambind uit verskillende groepe en kulture. Juis dit maak die evangelie geloofwaardig. Ons is nie 'n klub nie, ons is 'n vreemde gemeenskap.

Die Ring van Caledon is die eerste Ring wat weer verenig met die Ring van die VGK. Dit volg na jare gelede waar ons twee kerk geword het, nie op grond van ons belydenis nie, maar op grond van ons velkleur. Dit was 'n moeisame proses om hierdie fout reg te stel. Hierdie historiese viering van eenwording vind nou plaas op Vrydag, 22 Oktober 2021 by die Hugenote Sentrum in Wellington. Ons gaan met 'n bussie deur vir die geleentheid. Enige iemand kan saamgaan. Word deel van die geskiedenis van God se pad met die NG Kerk in Suid-Afrika. Skakel net die kerkkantoor om jou plek te bespreek. Afskeiding is maklik, maar heelwording is 'n moeisame proses. Daarom is die belewenis daarvan 'n unieke voorreg. Daar is oomblikke wat die lig die duisternis deurbreek. Dit is nie vir almal beskore nie. Dit moet gevier word. Kom gerus saam!

Seënwense
Wilhelm

Musiek keuse: HIER IS U KERK

Oordenking Woens 29 Sept 2021 Lukas 12:22-34

Dit is deel van ons menswees om altyd te streef na meer. Dit is nie 'n slegte ding om ambisie te hê nie. Die strewe om te ontwikkel en uit te brei is nie noodwendig 'n negatiewe ervaring nie. Ons moet tog vorder in die lewe. Daarvoor het ons dryfkrag nodig. Sonder dryfkrag en ideale sou ons nie in ons beroep kon vorder of kon bekostig om onafhanklik te lewe nie. Ambisie en harde werk het van mense welvarende mense gemaak. Hulle het geleerdheid verkry, hard gewerk en kan nou in 'n mooi huis bly, lekker vakansie hou en goed aftree.

Die Bybel gee vir ons baie duidelik leiding oor hoe ons met ons finansies te werk moet gaan. In Eksodus 20:3 lees ons: "Jy mag naas My geen ander gode hê nie." Dit stel die riglyn dat besittings nooit ons hooffokus in die lewe mag word nie. God weet dat enigiets wat ons té hoog ag, die mag het om ons harte te verower en ons in die versoeking kan bring om aardse besittings – soos geld – bo God te stel. "Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees. (Lukas 12:34) "Moet jou nie afsloof om ryk te word nie en moenie jou sin vir waardes verloor nie. Jy het nog skaars die rykdom gesmaak of dit is weg; dit kry vlerke en vlieg die lug in soos 'n arend." (Spreuke 23:5)

Dit gaan oor waarop ons fokus in die lewe. "Niemand kan vir twee base tegelyk werk nie. Hy sal óf die een minder ag en die ander een hoër, óf vir die een meer oorhê en die ander een afskeep. Julle kan nie God én Mammon dien nie." (Matteus 6:24)

Geld self is nie die probleem nie, dit is eenvoudig 'n ruilmiddel waarmee daar handel gedryf word. Die uitdaging is om my geld as 'n geleentheid tot diens te sien en om nie deur hebsug verteer te word nie. Dit is maar een van die vele hulpbronne – soos tyd, gesondheid en talent – waarmee God ons geseën het. Hulpbronne moet egter gebruik word om ander mee te seën en nie vir volgehoue selfverheerliking nie.

Die teenvoeter vir materiële versoekings is vergenoegdheid. Sonder om dit wat ek wel besit te kan waardeer, verval ek in die bodemlose put van begeertes en onvergenoegdheid. Die gejaag na geld en wêreldse sukses maak ons blind vir die talle seëninge wat ons reeds het en ons verloor tevredenheid en dankbaarheid, twee kwaliteite wat God hoog aanslaan. "Hou julle lewe vry van geldgierigheid; wees tevrede met wat julle het. God self het gesê: “Ek sal jou nooit verlaat nie, jou nooit in die steek laat nie.” (Hebreërs 13:5)

Jesus waarsku ons ook in Lukas 12:15 om nie ons vertroue in materiële besittings te plaas nie. Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie" Omgee vir ander is 'n goeie teenvoeter vir materialisme. "Vereer die Here met offerandes uit al wat jy besit en met die beste uit jou oes, dan sal jou skure oorvol wees en jou parskuipe oorloop van die wyn." (Spreuke 3:9-10) "Wie 'n ander voorspoed gun, sal self oorvloed hê. Wie die dors van ander les, sal self genoeg kry as hy dors is." (Spreuke 11:25)
Inderdaad, dit maak 'n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang…

Seënwense
Wilhelm

Musiek keuse: Genade Onbeskryflik Groot

Oordenking Dins 28 Sept 2021 - Fil.4:10-13

Op die platteland is die kerk steeds vir die gemeenskap 'n samebindende krag. Die hoë kerktoring op elke klein dorpie is 'n getuienis dat die mense van daardie dorp die God van hemel en aarde aanbid. Sondae lui die kerkklok en die gebeier nooi die inwoners om saam te kom vir aanbidding. Daarom sal die gemeenskap op die platteland alles doen om die gemeente staande te hou. Van die klein gemeentes kan egter net nie meer 'n voltydse leraar bekostig nie.

Ek ken 'n jong vrou wat as proponent na 'n klein gemeente in die Karoo beroep is. Ek bewonder haar moed om as jongmens so 'n rol in 'n gevestigde gemeenskap op te neem. Die plase lê wyd en ver en huisbesoek is 'n dag se ry op slegte paaie. Sy moet mense se komplekse uitdagings aanspreek en hoop bring waar die natuur sy tol eis. Nogtans vervul sy haar roeping met onderskeiding.

Loeriesfontein kan nie meer 'n voltydse leraar bekostig nie. Gelukkig het 'n klasmaat van my pas afgetree en help nou om die gemeente te bedien. Daarom is die ondersteuning van die boere van Caledon so 'n groot hulp sodat die gemeente kan bly voortbestaan in 'n uitmergelende droogte. Ons het reeds gehoor dat die basaar 'n groot sukses was en dat almal se gemoed sommer ligter voel.

Al laagtepunt was dat die warm tent eenkant op die terrein waarin die TV opgestel was sodat mense die Springbokke kon kyk, al warmer geword het! Iemand het gewonder of die warm Karoolug nie die Bokke kortasem sal maak nie! Selfs die teleurstelling oor die naelskraapse nederlaag kon nie die gees van die dag demp nie. Dit is net 'n spel, die regte lewe moet met durf voortgesit word. En in die regte lewe kan jy nie net skop en storm nie!
Die volgende dag is die totale inkomste van die basaar bekendgemaak. Weer het die trane gevloei. R842 000!

Die gemeente van Loeriesfontein kan Paulus se brief aan die Filippense in Hfst.4:10-13 aanhaal: "Ons was baie bly in die Here dat julle na so 'n lang tyd weer gewys het dat julle nog aan ons dink. Nie dat julle ons ooit vergeet het nie. Ons sê dit nie omdat ons gebrek ly nie, want ons het geleer om ons in alle omstandighede te behelp. Ons weet wat armoede is en ons weet wat oorvloed is; van alles het ons ondervinding: om genoeg te hê sowel as om gebrek te ly. Ons is tot alles in staat deur Hom wat ons krag gee. Nietemin het julle goed gedoen deur ons in moeilike omstandighede by te staan. En ons God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy oorvloedige rykdom in Christus Jesus. Aan ons God en Vader kom die heerlikheid toe tot in alle ewigheid! Amen"

Wilhelm

Musiek keuse: Grote God, aan U die eer

Oordenking Maan 27 Sept 2021 Fil.4:4-7

Jesus het gesê dat dit 'n mens gelukkiger maak om te gee as om te ontvang. Dit het 'n klompie boere van Caledon die naweek ervaar toe hulle opgeruk het na Loeriesfontein om hulle basaar te ondersteun. Waar die gemeenskap die afgelope sewe jaar gebuk gaan onder knellende droogte, is die gemoedere en hoop by die mense al baie laag. Jy kan ook net só lank uitkyk vir reën en vir só lank elke dag jou skape voer.

Die basaar was ten spyte van die omstandighede 'n groot sukses! Daar was danksy die skenkings baie vleis te koop, die vure het gebrand en die besoekers het lekker gekuier. Van die inwoners het laat blyk dat hulle lanklaas weer soveel hoop ervaar het.

Toe die veiling van allerlei goedere aanbreek, het die besoekers met entoesiasme gebie op alles wat voorkom. Een van die items wat opgeveil is, was 'n pragtige en kunstig gemaakte pop. 'n Klein dogtertjie het haar ma oortuig om op die pop te bie. Haar ma het dapper begin, maar van die besoekers het vinnig die prys opgejaag. Die teleurstelling op die dogtertjie se gesig en die ma se verleentheid was 'n hartseer gesig. Die pop was haar nie beskore nie.

Toe die bod vir die pop teen 'n baie hoë prys toegeslaan is op een van die besoekers, was die verbasing groot toe die man na die dogtertjie toe stap met die pop en dit in haar hande plaas. Dit was 'n klein simbool van wat die Caledon boere die naweek vir mense sonder hoop beteken het. Haar blydskap het ons ontroer. Waar daar liefde is en deernis, daar is God die Heer…

Dit herinner ons aan die geleentheid wat ons het om daagliks klein tekens van hoop op te rig. Dit vra nie baie nie, maar wel opmerksaamheid. Iemand met 'n trollie by die kasregister het dalk 'n helpende hand nodig, die moeë kassier kan bemoedig word met 'n vriendelike woord van dank, die gebaar om iemand 'n kans te gee om in swaar verkeer in die ry in te val, is klein tekens van hoop in ons daaglikse roetines.

So word ons draers van 'n nuwe gesindheid. Die Gees se werk in ons begin dikwels met vriendelikheid. 'n Glimlag breek spanning af en skep 'n atmosfeer van aanvaarding. In Fil.4:4-5 sê Paulus die glimlag hoef nie kunsmatig te wees nie. Blydskap is nie aangeplak nie, maar kom van binne. "Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik (vriendelik) teenoor alle mense. Die Here is naby."

My innerlike vrede en vriendelikheid teenoor ander kom dus van 'n diep bewussyn dat die Here by my is. Daarom kyk ek met nuwe oë na die wêreld en na mense. Alle selfsug en oordeel word gerelativeer deur die Geselskap waarin ek daagliks verkeer. Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my.
Ons het dit sien afspeel met die oorhandiging van die pop by die basaar, sien dit daagliks waar gelowiges paaie kruis met ander mense en voel dit aan wanneer mense aangestap kom na die kerk. Vriendelikheid is in jou oë sigbaar. Die ideaal is dat hierdie vriendelikheid vir ons deure sal oopmaak na mekaar. Dit bring 'n ander atmosfeer waar ons beweeg, want vriendelikheid is aansteeklik.

Seënwense!

Wilhelm


Musiek keuse: Joy to the World (2006)

Oordenking Don 23 Sept 2021
Matt.23:1-12

Ons het gister nagedink oor die hartseer dat wonde in my gemoed my vreugde kan steel. Seerplekke moet beskerm word. Daar groei 'n roof oor, maar dit bly sensitief. Dan kom maskers soos jaloesie, humeurigheid, venynigheid, minderwaardigheid, skinder en spoggerigheid na vore. Dikwels dwing dit jou om 'n skyn van meerderwaardigheid te handhaaf. Alhoewel dit net 'n skans is, beïndruk dit die meeste mense. Hou die blink kant bo…ten alle koste.

'n Ander manier is om te vlug in minderwaardigheid. Jy meet jouself aan ander en voel altyd verleë oor wie jy is. Jy maak gedurig verskoning vir hoe jy lyk en wat jy besit. Natuurlik kan jy dan ook nie ander mense se sukses en goeie smaak waardeer nie. Dit is waar skinder sy oorsprong het, by minderwaardigheid.
Dit maak 'n mens moeg om die heeltyd te kompenseer vir iets. Jy is nie gemaklik in jou vel nie. Toneelspel is veeleisend. Dit maak jou fyngevoelig en humeurig. Vriendskap is ter wille van iets anders. Die hartseer is dat dit alles begin by 'n behoefte aan aanvaarding.

Die invloed van minderwaardigheid op my geloof is net so ingrypend. Omdat ek voortdurend myself moet handhaaf, kan ek genade moeilik ontvang. Ek bewys ook nie genade nie, daarvoor is die lewe te kompeterend. Ek merk dat selfs kerke hierdie kompetisie omarm en godsdiens word 'n strewe na uitnemendheid. Geloofsgroei is om beter te word in jou vaardighede. Kort voor lank is jy 'n goeie christen.

Dit is merkwaardig dat Jesus die mense wat sy pad gekruis het, so goed verstaan het. Die hele godsdiens van die Fariseërs was gebou op uiterlike vertoon. Jesus ontmasker dit in ons teksgedeelte. Dit is alles toneelspel. Dit gaan oor posisies. Daarom draai Jesus godsdienstigheid om van om goed te probeer wees, na onbaatsugtige diens. Dan is die ego nie voorop nie, maar die belange van ander.

Dit maak 'n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang. Geloof begin wanneer ek met leë hande voor God staan en niks meer van myself verwag nie. Dan raak ek oop vir genade en vergifnis. Wanneer ek niks meer voor God hoef te bewys nie, kan ek onbevange begin liefhê. Dit is wat Jesus in vers 11 bedoel met die woorde: "Maar die grootste onder julle moet bereid wees om die ander te dien."

Ware vryheid kom as ek eerlik voor God staan en Hy my met foute en al aanvaar. Hy doen meer as aanvaarding, Hy vergewe my verlede en foute en bring my angstige hart tot rus. Wie so onvoorwaardelik vergewe is, begin werklik lewe. Niks bevry jou so soos onvoorwaardelike liefde en aanvaarding nie. Dan eers kan die maskers laat val word en ek my ware menswees ontdek. Ek hoef vir NIKS meer te kompenseer nie. Ek is 'n geliefde kind van die Vader!

Vanuit hierdie posisie van heling kan ek weer ander mense begin waardeer. Ek kan komplimenteer en waardeer in die plek van skinder en kwaadpraat. Ek kan ander se gawes aanvaar en waardeer ipv kompetisie en afguns. Ek kan goeie dinge van hulle vertel ipv om foute uit te wys en te skinder oor hulle. Ek kan ander se gawes raaksien en leer waardeer. Ek dink dit is wat liefde beteken. Daarom beteken die word kerk, 'n sirkel. Almal is gelyk en hoort bymekaar. Die liefde kan gedy!
Die bonus is: Waar daar liefde is en deernis, daar is God die Heer!

Vrede vir jou.
Wilhelm

Musiek keuse: In U is vreugde

Oordenking Woens 22 Sept 2021

My ouma het altyd gepraat van "daardie persoon is liggeraak." My oupa het dan bygevoeg: "Ja, sy lont is maar kort en die nerfie dun!" Ek kon nooit verstaan wat hulle bedoel nie. Eers later het ek agtergekom wat dit beteken en dat jy maar lig moet loop vir sulke mense en jou woorde tel. My oupa was so 'n stil mens, hy kon maklik sy woorde tel.

Later het ek begin wonder, wat veroorsaak dat iemand se nerfie dun raak? Dit lyk my dit is meer onder die vel wat dit dun is. Dit is vir die persoon belangrik dat dinge verloop soos wat hy of sy dit wil hê. Dan voel hulle veilig. Indien jy anders praat as waarmee hulle veilig voel, is hulle bedreig en kom die impuls deur dat hulle die self moet beskerm. Dit moet veeleisend wees, want die radar in hulle onderbewuste moet die hele tyd skandeer vir enige boodskap wat die brose self mag bedreig. Enige woorde wat verdag klink, word opgeraap en 'n teenaanval word in die onderbewuste voorberei. Dit word blitsvinnig deur die brein na die mond gestuur om die nodige skerp antwoord te kan gee. So bly die brose self in jou veilig.

Hierdie waaksaamheid is waarskynlik 'n veeleisende taak. Jy kan nooit ontspan nie, want jy moet op jou hoede bly vir enige iemand wat moontlik iets kan sê of doen wat jou kan seermaak of beledig. Die skerm van agterdog moet in plek bly sodat die aanvalswapens van vergelding vinnig hul werk kan doen. So ontwikkel jy 'n skerp tong en 'n kort humeur, 'n dodelike kombinasie! Met hierdie blitsige wapen kan jy enige persoon wat jou te na kom in repies skeur. Met so 'n wapenrusting kan die brose self in jou 'n bietjie ontspan en die masker sit stewig.

Hierdie bitsige mondgevegte kom verbasend baie in families voor. Soms kletter die woorde oor die etenstafel. Jy sien die rook trek in kantore en soms selfs in die slaapkamer. Dikwels is dit ook meer effektief as jy bietjie woede as plofkrag kan byvoeg. Dit werk ook dodelik in families, want hulle ken mekaar se brose kante al goed. Jy rig net die vurige pyle op die ander een se fyngevoeilige plekkies.

Is fyngevoeligheid 'n keuse? Kan 'n kort humeur beteuel word? Kan jy 'n skerp tong in toom hou? Kan jy neerhalende kritiek ombuig in waardering? Ek dink dis moontlik. Jy moet net gaan kyk waar kom die sensitiewe plekke in jou binneste vandaan. Daar moet nog rowe êrens sit. As jy die bedreigde plek kan opspoor, sal jy agterkom dat daar baie infeksie rondom dit is wat die sensitiwiteit veroorsaak. Jy kort 'n pleister vir die siel. As jy die seerplek kan beskryf, is jy al halfpad met die proses van genesing.
Christus het eendag vir die mense gesê: "Kom na my toe, almal wat moeg en oorlaai is, en Ek sal vir julle rus gee." (Matt.11:28-30) Hy het gepraat met mense wat met al die wette 'n goeie lewe probeer leef het. Dit het nie gewerk nie, want die sensitiewe plekke in hulle binneste wou nie genees nie. Jesus bied die salf van sagmoedigheid en nederigheid aan. Hy belowe dit sal rus gee vir hulle brose gemoed. Jesus praat nooit verwytend nie. Sy juk is sag en sy las is lig. Dis so lekker om by Hom net jouself te wees. Hy ken jou tog deur en deur.

Is dit moonlik dat 'n mens selfs in jou later jare van al hierdie seer en minderwaardigheid in jou binneste ontslae kan raak? Kan mens maar die skanse laat sak en onbedreigd lewe? Wat beteken die rus waarvan Jesus praat?

Ons stop eers hier. Môre kan ons verder hieroor praat. Dink solank aan plekke in jou gemoed waar nog rowe lê. Waarvoor skerm jy die meeste? Wat lok die vurige pyle uit as iemand te naby aan jou kom? Dis soms goed om bietjie hieroor na te dink.
Vrede vir jou!

Wilhelm 

Musiek keuse: Neem my lewe laat dit Heer

Oordenking Dins 21 Sept 2021 Johannes 13:34-35

Die Boesmanlanders is bekend vir hulle gasvryheid. Hulle is sout van die aarde mense. Loeriesfontein se basaar was nog altyd 'n belewenis. Die boere skenk skaap en mense kom van ver om die feestelikheid by te woon. Ek lees die volgende in die dorpskoerant van 58 jaar gelede: "Loeriesfontein se beroemde jaarlikse dankofferbasaar word as die grootste basaar ter wêreld beskryf. Alle stofpaaie het gister na Loeriesfontein gelei. Die braaivleisvure het gisteroggend om 9h00 al gebrand. Die basaar het vanjaar 'n magtige R20 000 opgelewer. Die veiling van 925 skape het alleen R7745 opgelewer!"

Die afgelope paar jaar het die droogte egter die boere op hulle knieë gedwing. Daar is niks kos meer vir die diere in die veld oor nie. Dit is hartseerverhale van mense wat hulle lewe gegee het vir die boerdery, en nou veg om oorlewing. Vanjaar kan die boere ook net nie meer bykom om basaar te hou nie. Daar is niks oor om te verkoop nie. Die basaar kan nie plaasvind nie en die gemeente steier om te oorleef.

Awie en Hanneke Brand, leraarspaar van Caledon-Wes, het beide in Loeriesfontein grootgeword. Hulle ouers en familie boer nog daar. 'n Plaaswyk in Caledon het besluit om te help. Die gemeenskap van Caledon het daarvan gehoor en ingespring en vleis bewerk, wors gemaak, koeke gebak, groente versamel, speelgoed vir kinders gemaak, klere en allerhande lekker dinge geskenk wat 'n basaar besonders maak. Loeriesfontein gaan weer basaar hou!

Verskeie bakkies met sleepwaens vertrek die naweek na die Boesmanland om te gaan help. Daar sal weer basaar gehou word soos van ouds, maar die produkte kom van hande wat omgee. Dit is op RSG uitgesaai en mense kom van heinde en ver om te ondersteun. Al die gastehuise is vol en die dorp se mense skep weer moed vir die pad vorentoe. Waar daar hoop is, is daar lewe!

Genade kom dikwels in verskeie vorme na ons toe. Gister het ons gesien hoe genade vloei deur vier lepeltjies suiker. Hierdie naweek vloei dit deur boere wat vir mekaar omgee. Dink net hoe voel die gemeenskap daar as die bakkies met vragte vol vleis, groente en eetgoed begin aankom! Die dorp loop weer vol en stadig begin die hoop weer terugvloei in die verslae mense se harte.

Ek en Alna het besluit om saam te gaan. Ons wil ons gemeente se seën ook gaan oordra. Ons wil die vreugde gaan beleef as mense wat hoop verloor het, weer opgetel word deur gelowiges van oral oor wat hulle nie vergeet het nie. Dit is kerkwees in haar mees basiese vorm.
Jesus het gesê: "Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van my is."

Skep moed!
Wilhelm

Musiek keuse: Strome van seën

Oordenking: Maan 20 Sept 2021 Luk. 8:40-48
Vier lepeltjies suiker

Danie en Caroline Kotze het so 'n jaar gelede vanaf Nelspruit in ons gemeente ingetrek. Hulle is meelewende lidmate wat ook 'n kleingroep begin het. Die afgelope tyd het ons nie tee na die diens gedrink nie. Almal stap maar reguit na hulle motors toe. Die getalle was ook maar net 50 mense wat die diens kan bywoon, ietwat mistroostig!

Een Sondag na die diens kom rapporteer ons koster Deon benoud: Iemand verkoop koffie op die parkeerterrein! By nadere ondersoek is dit Danie en Caroline wat na die diens vir die kerkgangers gratis koffie aanbied. Wat 'n besondere gebaar van gasvryheid!

Ons mense was maar bietjie skepties oor hierdie vreemdelinge se gasvryheid. Iemand het wel nader gestaan. 'n Man wat geen huis het nie en snags in die bosse slaap, het huiwerig kom naderstaan vir 'n beker koffie. Toe Caroline vra hoeveel suiker, was die antwoord skaam: Vier asseblief! Sy het dit met liefde ingegooi en die man het behaaglik die soet, warm koffie staan en drink. 'n Welkome gebaar van gasvryheid op 'n koue Sondagoggend.

Soms kom genade in die vorm van vier lepeltjies suiker. As ons oop is vir die oomblik, is die geleentheid om liefde te bewys voor ons deur. Dit is meestal nie groot dinge wat van ons gevra word nie, maar net om sensitief te wees vir die medemenslikheid van die oomblik. Soms is dit net die manier waarop ons met mense wat ons pad kruis, praat, wat die deur oopmaak vir vernedering of medemenslikheid. Dit vra 'n soort deernis wat net die Gees ons kan gee. Ons wêrelde is te ver uitmekaar dat ons dit met ons eie oë kan raaksien.

Ons mag die Heilige Gees vra om ons 'n fyn aanvoeling te gee vir mense. Dit begin by die respek vir almal se menswaardigheid, ongeag hulle voorkoms of posisie in die samelewing. Dit kom nie altyd vanself nie.

Jesus was ook besig met Sy bediening toe iemand aan die soom van Sy kleed raak. Hy kon dit ingoreer het, want baie mense het Sy aandag gevra. Hy het nie. In Luk.8:43-48 lees ons die merkwaardige verhaal waar Jesus tussen die skare stop en vra: "Wie het my aangeraak?" Die dissipels was verontwaardig omdat die skare rondom Hom was. Tog was Hy ingestel op die oomblik. Dit het die vrou se lewe verander.

Al mag ons nie aan mekaar raak nie, is die geleentheid nog daar om mekaar raak te sien en 'n verskil te maak. Al is dit met 4 lepeltjies suiker. In Matt.26:40 sê Jesus: "Vir sover julle dit aan een van die geringste van hierdie broers van my gedoen het, het julle dit aan My gedoen."

Dit lyk my dit is die manier waarop ons na mense kyk, wat die verskil maak. Deernis, respek en menswaardigheid vorm die basis daarvan…en dit is 'n gawe wat van Bo kom. Daar is baie grense in onsself wat eers deurbreek moet word. Inderdaad, waar daar liefde is en deernis, daar is God die Heer.

Vrede vir julle,
Wilhelm

Oordenking: Donderdag, 16 September 2021

Die Taal van God: Die Woord ‘Wind’
Psalm 104v1-3

Ek vra weer: Hoe goed ken jy vir God?
Immers, jy kan God nie sien nie, nie hoor nie, nie voel nie, nie ruik nie en ook nie proe nie. Maar God weet dit en daarom praat God met ons deur die natuur.

Vandag se sleutelwoorde is “Wind”.

Ons, hier by die see ken die wind. As die Noordweste waai, kom dit reën. As die Suidooster waai kry die Binneland reën. Die Bergwinde bring die hittegolwe.

Moet nooit die waarde van winde onderskat nie. Die Nederlanders het met windmeule die land drooggelê. Winde het die skepe van die VOIC en vir Jan van Riebeeck na die Suidpunt van Afrika. In die Karoo pomp windpompe water vir die vee. Vandag rig ons reuse windplase op om elektrisiteit op te wek.

Maar wat sê die wind vir ons van God?
Die wind is nog een van God se predikers en die wind waarsku:
God werk kragdadig.
• Tydens die skepping het God se Gees soos die wind gesweef en aard én mense geskape (Gen. 1v2 & Gen. 1v7).

• ʼn Sterk Oostewind het vir Moses en Israel die see oopgekloof (Eks. 14v21)

• In Eseg. 37 lees ons van die doodsbeendere wat herleef eers nadat die Gees van God soos ʼn wind in hulle ingeblaas is.

• Jesus praat oor die wedergeboorte en sê vir Nikodemus hy moet sy roeispane los en sy seile in die wind span (Joh. 3v8).

• In Joh. 20v22 blaas die opgestane Jesus Sy Gees soos ʼn asem oor Sy dissipels en Hy sê: “Ontvang die Heilige Gees”. Gees vervuld!

• As die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort word, is daar die vuurtonge en die geluid van ʼn geweldige stormwind (Hand 1v8 & 2v2). Die kerk kom in beweging en niks en niemand kan die kerk se momentum stuit nie!

Wat sê die wind vir my?

Vir die Kerk is daar ʼn boodskap:
Die Heilige Gees waai die kerk in nuwe rigtings is. Na COVID vervang die voorskoot die toga. Ons klim uit ons gemaklike Sondag genaamde bootjies en loop weeksdae op die water! Afghanistan (soos Noord-Korea) is geslote lande vir die kerk, maar nou vlug die Afghane na die Weste. In Engeland is dit juis die ou rustige parish-kerkies wat ontwaak en die vlugteling in die Naam van Jesus ontvang en tuismaak. Die Kerke gooi hul roeispane oorboord en span die seile. Dit is opwindende tye. Die Here se winde waai .....!

Ons leef in uitdagende tye. Die Bybel se opdrag is duidelik: “Laat die Gees julle vervul en sing onder mekaar ...”, m.a.w. weg met die inspannende roeispane en span die seile (Efes. 5v18-20).

Hoe?
Ek kan nie sing nie, maar as ek soms alleen stap, waag ek ʼn ou Engelse koortjie (wat net die Here mag hoor!)

Sing (of bid dit ten minste) saam met my:
Spirit of the living God,
Fall afresh on me.
Melt me,
mold me,
fill me,
use me.
Spirit of the living God,
Fall afresh on me.

Gaan staan én sing in die wind én span die seile.....!

Krag toegebid van ʼn windverwaaide Heys tot nog ʼn windverwaaide Huis

CLIFFORD

Oordenking: Woensdag, 15 September 2021

Die Taal van God: Die Woord ‘Wolke’
Psalm 104v1-3

Mag ek wéér vra hoe goed ons vir God ken, want ons kan God nie sien, hoor, voel, ruik of selfs proe nie? En tog is Hy daar.

God weet dit en daarom gee God vir ons ʼn eenvoudige grammatikaboek - die natuur. En daarin gee Hy vir ons sleutelwoorde.

Vandag se sleutel-woord is “WOLKE”.
Ons grammatikaboek sê by Psalm 104 dat die “Wolke” nog een van God se predikers Is.

Ja, ons ken die wolke.
Ons weet wolke is waterdamp, sigbare waterdruppeltjies wat in die atmosfeer hang en dryf.

Ons weet ook dat die warm strale van die son die water in die oseane verdamp en dat die waterdamp opstyg na bo. Dis koud daar bo en die waterdamp koel weer af en dit verdig. En só ontstaan wolke.

Die Bybel praat baie van wolke:
• Dink aan Moses en die Israeliete wat vir 40 jaar deur die wildernis getrek het. Elke dag was daar ʼn wolk bo oor hul kamp. Dit was baie meer as ʼn wolk. Dit was God wat in Sy spesiale Sekuriteits-voertuig saam getrek en ondersteuning gebied het (Eks 40v34-38). God was by hulle.

• Dink aan die dag toe Koning Salomo die nuwe tempel ingewy het. ʼn Wolk het die liturgiese ruimte gevul en God was teenwoordig. Salomo het onmiddellik geweet: Hierdie wolk was God wat in Sy blink Ampsmotor opgedaag het (2 Kron. 5v13-14). God was teenwoordig.

• Dink aan die dag toe die Here Jesus op die Berg van Verheerliking gaan bid het. ʼn Wolk het hulle omvou. Dit was God wat in Sy 4x4 Nutsvoertuig opgedaag het (Matt 17v1-5). God was dáár.

• Dink aan Jesus se Hemelvaart. Hy is in ʼn wolk opgeneem. God het Sy Seun in Sy blink Ampsbussie kom haal en hemel toe geneem (Hand. 1v9). God het aarde toe gekom.

• En vandag verwonder ek my steeds aan die wolke. As ek wolke sien, kyk ek uit vir die wederkomswolke. Die wederkomswolke sal waarskynlik soos ʼn groot bus wees wat gestuur word om ons almal te kom haal. Niemand mag (soos op die Kabul lughawe) agterbly nie! (Opb 1v7). Die dag as ek op my sterfbed lê, sal ek nie alleen wees nie. Daar sal ʼn wolk wees ...!

• En dink ook daaraan. As daar droogte is, sal ons met ons groot swaar vragmotors water aanry na die dorpe. Maar God doen dit anders. Hy tap water uit die see en laai dit op wolke. Die wolke is God se diensvoertuie. God stuur die wolke na die droë land. Hy draai die sluise oop en dit reën (Ps. 147v8). God is oor ons land en ons mense. Kyk waar sien jy oral wolke!

Bid saam met my:
Here my God,
U is met wolke omhul
Ek sien wolke oor die droë Karoo
Ek sien wolke oor strate waar bande brand
Ek sien wolke waar manne ledig op straathoeke staan
Ek sien wolke waar die kerk-susters sop kook
Ek sien wolke waar volksleiers soek na wysheid
En
Dis wonderlik dat die hemel nie wolkloos is nie.
In ons swakheid
in ons twyfel
in ons ouderdom
en as my laaste uur aanbreek
Dan wag ek nie vir die ambulans of lykswa nie
ek wag vir die wolk om my te kom haal.

Kyk op na die wolke.
Raadpleeg God se grammatikaboek
En kyk dan wéér nuut na die Wolke

Verwondering van Heys tot Huis
Clifford

Oordenking: Dinsdag, 14 September 2021

Die Taal van God: “Hemelkoepel”
Psalm 104v1-2

Vandag se sleutel-woord is “Hemelkoepel”.

Ek vra weer: Hoe goed ken jy vir God?
• Immers, jy kan God nie sien nie - Hy het nie ʼn gesig nie.
• Jy kan vir God nie hoor nie - Hy het nie stembande nie.
• Jy kan vir God nie voel nie - Hy het nie vel nie.
• Jy kan ook nie vir God ruik en proe nie.

God weet dit en daarom praat God met ons in ʼn taal wat mense van alle tale en ouderdomme kan verstaan. God praat die taal van Lente. En Psalm 104 is ‘n grammatika om ons te leer.

Vandag se sleutel-woord is “Hemelkoepel”.

Wat weet ons van die Hemelkoepel?

Ons weet dat die hemelkoepel eintlik die atmosfeer is. En ons weet ....
• Die atmosfeer is ʼn gasvormige laag wat soos ʼn dak oor die aarde gespan is.
• Ons weet die atmosfeer bestaan basies uit stikstof en suurstof met waterdamp en koolstofdioksied.
• Ons weet ook dat die atmosfeer die aarde beskerm teen o.a. vallende wat uitbrand voordat dit op die dak val.
• Die atmosfeer gee ook vir ons die mooiste sonsondergange en reënboë soos onlangs van Kidbrooke gesien.
• Ons is ook baie bekommerd oor die besoedeling van die atmosfeer a.g.v. die skadelike gifgasse.

Maar Psalm 104 sê ons moet nuut kyk na die atmosfeer.
Dit is soos ʼn groot tent wat die hele aarde omspan en ons woon almal onder een dak, ʼn reuse blou hemelkoepel. Maar nie net ons nie. God woon saam met ons onder hierdie blou hemelkoepel. Ons is familie, broers en susters, kinders van God.

Psalm 104 sê ook ons moet daarom weet dat God altyd en oral met ons is – alleen in my kamer, in die spreekkamer, in die hospitaal, in my ouderdom, oral en altyd. Immanuel.

Psalm 104 sê ook dat ons nie net mens is nie, maar ook medemens. Ons is almal geskape na die beeld van God. In ons almal is daar iets goeds! Onder hierdie blou hemelkoepel is ons almal smede – ons moet van swaarde ploegskare smee en van spiese snoeiskêre (Jes. 2v4).

Bid saam met my die bekende gebed in die Kamer van Stilte by die Brandenburg-Hek in Berlyn:
“Here, ons planeet is maar ʼn greintjie van die heelal
maar U het gekies om hier gebore te word.
Daarom wil ons dit graag ʼn plek maak
waarvan die inwoners nie meer deur oorlog, honger, vrees,
en vooroordele van ras, kleur en ideologieë ten gronde gaan nie ...
... Gee ons daarom die moed en krag, Here
om vandag met dié taak te begin
sodat ons kinders se kinders eendag weer
die naam ‘mens’ met trots kan dra”
(Die Groot Gebedeboek, Piet Naude)

Kyk op na die blou hemelkoepel bokant ons koppe en weet - ons, jy en ek én God is huisgenote.

Groete van ʼn Heys-genoot tot Huis-genoot,

CLIFFORD

Oordenking: Maandag, 13 September 2021

Die Taal van God: Die Woordjie: “Son”
Psalm 104v1-2

ʼn Vraag:
Hoe goed ken jy vir God?
• Immers, jy kan God nie sien nie - Hy het nie ʼn gesig nie.
• Jy kan vir God nie hoor nie - Hy het nie stembande nie.
• Jy kan vir God nie voel nie - Hy het nie vel nie.
• Jy kan ook nie vir God ruik en proe nie.

God weet dit en daarom praat God met ons in ʼn taal wat mense van alle tale en ouderdomme kan verstaan. God praat die taal van die natuur. En Psalm 104 is Sy grammatika om ons dit te leer.

Vandag se sleutel-woord is “SON”.

En nóg ʼn vraag:
Wat weet ons van die son?
• Die son is groot – die son is 3 00 000 keer groter as die aarde.
• Die son is warm – die son is soos een groot waterstofbom met kernkrag in-ploffings.
• Die son gee lewe, lig, kleur, groeikrag én vrolikheid.
• Die duisternis van die heelal kan die son nie uitdoof nie.
• Die 8 planete in ons sonnestelsel wentel om die son.

En wat sê God se Woord van die son?
Ps. 104 sê die son is een van God predikers.

Prediker Son sê ons is in totaal afhanklik van die God. Sonder God is daar niks. God is geklee met heerlik en majesteit. Jy kan God nie sien nie, maar sonder die son kan jy buitendien niks sien nie.

Moses wou so graag vir God gesien het, maar God het Moses slegs toegelaat om God se hart te sien en dit was ʼn Vaderhart vol van liefde en genade (Eks. 33v18-23 & 34v5-7).
Ek kan jou vanoggend slegs uitnooi om buite te gaan staan en na die natuur te kyk en om met die grammatika van Ps. 104 God se taal te lees. En jy sal soos ʼn Willie van der Merwe God se hart sien en jy sal ook stotter as jy bid:

“Onbegryplik, onuitspreeklike, onvoorspelbare,
onontsyferbare, onverganklike, ewige, almagtige,
alomteenwoordige oorsprong,
grond en bestemming van my bestaan:
Bron van alle lewe,
Lig wat skyn in die duisternis,
Fontein van lewende water in die woestyn,
Waarheid waarop die ritme van my hartklop rym,
Geheimenis van die heelal,
Ewige Woord
U wat die Alfa en Omega is,
Die A en Z van die alfabet
Oneindig Begin, Onverhoorbare Sin
U wat ek tastend en stotterend “God” noem:
Laat my tog ,
Tot diep binne-in u Stilte in”
(Piet Naude se Die Groot Gebedeboek)

Kyk op na die son, sien God en stotter in gebed.
Seëninge toegebid Van Heys tot Huis
CLIFFORD

Oordenking, Don 9 Sept 2021 Romeine 8:9-17

Fyngevoeligheid is 'n moeilike reisgenoot deur die lewe. Dit laat my swaar kry en wroeg. Ek luister fyn na wat mense sê, want my emosionele radar is ingestel op enige tekens wat my brose menswees bedreig. Dit bring mee dat dit wat mense sê, deur my gemoed verdraai en as 'n vernedering beleef word. Ek rig dus skanse op om myself te beskerm. Skanse steel my vrymoedigheid om spontaan te wees en liefde te kan deel. Ek begin agter 'n masker leef.

Dit kan beteken dat my verhoudings met mense veeleisend raak. Ek kan nie vrymoedig liefde deel nie, maar is afhanklik van ander se aanvaarding en erkenning. So bly ek 'n bang mensie wat skuil agter 'n front van bravade.
Dit is moeilik om oor hierdie hindernis te kom. Dit vra 'n kopskuif om my waarde as mens te besef en te anker in iets buite myself. As ek nie geliefd by my ouers en vriende voel nie, moet ek êrens 'n basis vind waar ek gekoester kan word. Dit is waar die liefde van God my lewe kan anker. Hy het my onvoorwaardelik lief. Jesus het vir my sonde en tekortkominge betaal en my vrygemaak van skuld en minderwaardigheid. Ek moet dus hierdie belofte vir myself toe-eien en daaruit begin leef.

Dit is wat Paulus met ware blydskap bedoel. Dit kom van die geborgenheid in die liefde van Christus en die HG wat in my woon. Hierdie troos maak my 'n heel mens en help my om die moed te hê om ander mense lief te hê. Dit is ook wat ons onder geloofsekerheid verstaan. Ek is geliefd en word gekoester deur genade. Ek hoef God en mense nie te beïndruk nie, ek is vry!

Paulus beklemtoon in vers 10: "Julle word nie deur julle sondige natuur beheers nie, maar deur die Gees. Omdat Christus in julle is, gee die Gees aan julle die lewe op grond van God se vryspraak." Ons moet hierdie belofte daagliks in ons gedagtes dra. Dit moet deel word van ons diepste identiteit. Ek moet dit leer glo! Dan sal my lewe verander. Later gebeur dit soos Paulus sê: "Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my."

As hierdie waarheid my denke begin oorheers en my identiteit as mens vorm, gee dit my 'n innerlike krag om verhoudings te hanteer. Ek hoef niks te bewys nie. Ek hoef myself nie te handhaaf nie. Ek leef nie in vrees nie. Blydskap word deel van my lewe en selfvertroue spruit daaruit voort. Ek vergelyk my met niemand nie en materiële besittings is nie meer die basis van my geluk nie.

As dit met my gebeur, kom geluk en blydskap by my woon. Dit spoel oor in my verhoudings en gesindheid. Ek is meer blymoedig en minder bekommerd. Ek kan liefhê en ander waardeer. My kritiese gees verander in vergenoegdheid en dankbaarheid. Daarmee saam kom hoop en vreugde.

Dan verstaan ons vers 15 beter: "Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie. Dit laat julle tot God roep: Abba! Dit beteken Vader." Ons het soveel beloftes om van te leef. Ons behoort minder besorg en krities te wees. Bly mense is ook gesonde mense. Dankbare mense is vergenoegd en gemaklik in hulle eie vel. Jesus het self gesê: "Gelukkig is hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is."

Die spreekwoord lui: 'n Gesonde liggaam huisves 'n gesonde gees. Ek dink ons kan dit ook omdraai: 'n Gesonde gees huisves 'n gesonde liggaam.

Leef voluit!

Wilhelm

Musiek keuse: In U is vreugde, vrede en vreugde, Jesus Christus, U is Heer

Oordenking, Woensdag 8 Sept. 2021 Romeine 8:13-17

Ons as mense is deur God gemaak om die lewe voluit te geniet. Daarvoor ontvang ons 'n liggaam, verstand en vele talente om te ontwikkel. Dit is egter nie so eenvoudig nie. Ons het ook die vermoë om 'n bepaalde beeld van onsself te hê. Dit is die manier hoe ons na onsself en ons voorkoms kyk en hoe ons oor ons eie vermoëns en talente dink. As hierdie evaluering positief is, kan ek my talente en menswees omhels en die lewe met moed aanpak.

Dit is die ideaal. Die proses verloop nie altyd so vlot nie. Ek kry te doen met kompetisie in die skool en oral waar ek beweeg. Dit dwing my om myself te meet aan ander. So word 'n beeld van myself en my vaardighede gevorm. Soms is die beeld realisties, soms is dit egter 'n verwronge beeld van my eie vermoëns wat deur verskeie faktore skeefgetrek kan word.

Ons ouers en ander opvoeders speel ook 'n groot rol in die ontwikkeling van my selfbeeld. Onvoorwaardelike positiewe aanvaarding help geweldig baie om 'n gesonde selfbeeld te ontwikkel. Aan die ander kant doen gedurige kritiek en negatiewe ervarings my selfbeeld skade aan. Ons kan nie altyd kies hoe ons ontwikkel en waaraan ons blootgestel word nie. Die skade is dikwels reeds gedoen wanneer ons die volwasse lewe moet aanpak.

Ons sien in onsself en in die lewe daarbuite simptome van mense met 'n swak selfbeeld. Dit kan 'n soort grootpraterigheid wees of 'n knaende soeke na erkenning wat mense bietjie van so 'n persoon laat wegstaan. Daar is 'n gedurige behoefte om jou met ander mense te vergelyk. Jy wend jou dan tot kwaadpratery en skinder om jou eie minderwaardigheid te versteek. Ander mense is vir jou 'n bedreiging en jy kan nie onvoorwaardelik liefhê nie. 'n Swak selfbeeld knou dus jou potensiaal om as mens te groei en vrymoedig te lewe. Dit beïnvloed jou verhoudings en steel jou lewensvreugde. Jy kan nie onbevange mens wees nie.

Die invloed op ons geestelike lewe is ook ingrypend. 'n Lae beeld van my eie waarde maak dit moeilik om in my geloof te groei. Ek voel dat ek God se liefde nie werd is nie. Ek probeer maar my bes, sê mense, maar ek is nie 'n "goeie christen" nie. Ek hoop maar dat ek eendag die ewige lewe sal verkry, maar my skuldgevoelens steel uiteindelik my vreugde en hoop.

Hierdie troostelose siening van die lewe kan net verbreek word as ek die dag genade ontdek. Dit is die helder besef dat God werk met genade. Hy kyk na my en my mislukkings deur die bloed van Jesus en neem my aan as Sy kind. Die dag wat ek God se onvoorwaardelike liefde vir my ontdek, gaan die lewe vir my oop. Ek besef dat ek geliefd en waardevol is vir God. Boonop is my skuld vergewe en ek verkry die gawe van kindskap. Ek mag dit glo!
Paulus het hierdie waarheid op 'n dramatiese manier ontdek. Hy skryf later in Romeine 8:13-14: "As julle deur die Gees 'n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe. Die Gees wat aan julle gegee is maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: "Abba!" Dit beteken Vader. En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename, erfgename saam met Christus."

Hierdie troosryke belofte is die basis waarop my waarde as mens gebou is. Ek is 'n kind van God omdat Hy so sê. My posisie het geskuif na Koningskind en my toekoms is vas en seker by Hom. As dit my diepste identiteit vorm, kom ek innerlik tot rus. Die Bybel noem dit vrede. My waarde word nie meer gekoppel aan my opleiding of besittings nie, maar aan my deelwees van die familie van God. Ek word vry om onvoorwaardelik lief te hê. Dan eers word ek waarlik mens en kan myself na waarde skat. Daar is nie meer plek vir minderwaardigheid nie.

Dit is my enigste troos.

Wilhelm

Musiek keuse: My enigste troos

Oordenking Dinsdag 7 September 2021 Galasiërs 2:15-21

As daar een ding is waaraan elke mens 'n groot behoefte het, is dit aan onvoorwaardelike positiewe aanvaarding. Niemand kan daarsonder oorleef nie. Dit beteken dat ek kan grootword in 'n omgewing waar ek veilig is, waar ek aanvaar word en waar daar ruimte is vir my unieke persoonlikheid. Ek kry nie die gevoel dat ek vergelyk word met iemand anders nie, dat ek liefde moet verdien of dat ek moet presteer om aanvaar te word nie.

Dit klink alles so vanselfsprekend, maar ons hoor daagliks verhale van mense wat as volwassenes sukkel met hulle selfbeeld, gedurig kompenseer vir swakhede en aanvaarding soek deur uiterlike besittings of prestasies. As jy nie as kind onvoorwaardelike liefde ontvang het nie, word jou hele lewe gekenmerk deur kompensasie. Jy moet iets bewys of jy leef agter skanse.

Die hartseer is dat hierdie innerlike leemtes jou geloof ook raak. Dit is vir jou moeilik om God se genade te aanvaar. Dit voel gedurig of jy nie goed genoeg is nie. Dit kan uitspeel in 'n gedrewe godsdiens waar jy deur skuldgevoelens probeer om baie goed te lewe. Mense om jou kry die gevoel dat jou godsdiens oordrewe en wetties is. Sommige christene bring dan by ander 'n ongemak omdat mens die gevoel kry dat alles net te goed is om waar te wees. Die vreugde en vryheid ontbreek. Ongelukkig kan 'n geestelike leier hierdie skuldgevoelens by mense misbruik om 'n gedrewe godsdienstigheid te kweek. Godsdiens word gestroop van spontane vreugde en vryheid.

Talle mense het al laat blyk dat hulle met hierdie soort godsdienstigheid grootgeword het. Alles was streng en wetties. Skuldgevoelens oorheers jou ervaring van God. Geloofsekerheid is 'n vae droom omdat jy net nooit goed genoeg sal wees nie. Kerklike betrokkenheid word dan nie 'n vreugde nie, maar 'n plig en jou beurt is jou beurt! Jy kry dan goeie mense maar sonder innerlike vreugde en vrede. Daarom breek baie jongmense na skool weg van die kerk om nooit weer terug te keer nie. Denkende mense kyk van buite na die kerk en besluit om liewer nie deel daarvan te wees nie.

Luister hoe vertaal Die Boodskap Gal. 2:18-21: "As ek dan nou nog, nadat Christus dood is en weer lewendig geword het, op my eie by God probeer uitkom, wys ek dat ek net mooi niks van die goeie nuus verstaan nie. Dan is ek steeds skuldig voor Hom. Maar gelukkig is ek nou dood vir die wet. Al het die wet my skuldig verklaar omdat ek dit oortree het, leef ek nou vir God. Want ek is saam met Christus gekruisig. Toe Hy aan die kruis gehang het, is ek saam met Hom daar vasgespyker. Daarom is ek nou ’n nuwe mens. Daardie ou, sondige ek is iets van die verlede; dood en begrawe. Christus leef nou in my. Nou leef ek deur geloof. My hele bestaan draai om die Seun van God. Hy het my so lief dat Hy bereid was om sy eie lewe vir my op te offer. Ek kan nooit God se goedheid deur my vingers laat glip nie. As ek nou, na alles wat God vir my gedoen het, steeds probeer om self ’n plek in die hemel te verdien deur te doen wat die wet sê, is Christus verniet aan die kruis dood."

Vir my is dit hartseer dat baie mense hulle rug op die Bybel en die kerk gedraai het omdat hulle nooit die goeie nuus gehoor of dit verstaan het nie. Nog meer hartseer is dat ons in die kerk dikwels ook nie uit die vryheid lewe nie en so die boodskap van Christus onaantreklik maak. Laat ons leef uit genade, dien met vreugde en bly wees omdat ons die Lewe ontdek het. Dit is aantreklike godsdiens.

Groete!

Wilhelm

Musiek keuse: Joy to the World

Oordenking: Maan 6 Sept 2021 Ps. 139

Almal van ons het ideale en drome vir die lewe. As ons jonk is, moet ons besluit oor
'n loopbaan. Sommige droom oor 'n lewensmaat, 'n gesin en hoe hulle lewe kan
verloop. Daar is natuurlik ook sosiale druk wat jou drome bepaal. Sekere beroepe lyk
aanloklik en word hoog geag. 'n Groot inkomste stel jou in staat om jou drome waar
te maak en om vir jou 'n posisie in die samelewing te verseker.

Op 'n onbewuste vlak speel hierdie sosiale kragte 'n rol om ons lewe te rig. Die
bereiking van jou ideale help jou ook om in jou menswees vergenoegd te wees. Jy
het jou doel bereik, jy het geniet wat jy doen en kon 'n bydrae lewer tot die
samelewing.

Daar is egter die gevaar dat jou ideale en drome onrealisties is. Jy word gedryf deur
begeertes en kragte wat nie rekening hou met jou eie talente en vermoëns nie. Dit
bring mee dat jy altyd onder druk is en jaag na meer. Jy kom nie by vergenoegdheid
uit nie. Dit lei tot minderwaardigheid en afgunstigheid. Jy begin kompenseer en
voorgee dat jy iemand is wat jy nie is nie. Dan moet jy ten diepste altyd 'n rol speel.
Dit is 'n slegte plek om te wees. As jy nie gemaklik is met wie jy is nie, maak dit
ruimte vir afguns in jou lewe. Jaloesie kom loer om die hoek en skinderpraatjies vul
jou dag. Jy is geneig om groot te praat oor jouself en voortdurend oor ander mense
te skinder. Jou kinders word gedruk om te presteer waar jy nie kon bykom nie. Dis
uitputtend om voor te gee dat jy iemand anders is as jou ware self. In jou
onderbewuste vrees jy dat mense jou broosheid sal leer ken, en daarvoor sien jy nie
kans nie!

Hierdie dubbele rol beteken ook dat jy blootgestel is aan buite-egtelike verhoudings.
Die aandag en komplimente van 'n derde party vlei jou en vul 'n leemte in jouself wat
jy nie kan weerstaan nie. Ontrouheid is nooit 'n rasionele besluit nie. Jy word ook
blootgestel aan begeertes om geld te bekom wat jy nie in jou beroep kon verdien nie.
Jy moet byhou by die bure! So val mense vir korrupsie en beland in groot
moeilikheid.

Die oplossing is nie eenvoudig nie. Jy kan nie jare se letsels in jou selfbeeld oornag
regstel nie. Ons is nie eers altyd bewus van hierdie kragte en behoeftes wat in
onsself afspeel nie. Dit is dikwels die probleem, die gebrek aan selfinsig!

Ons kan begin om voor die Here stil te word en my lewe voor Hom bloot te lê. Die
eerste stap is om te besef dat Hy my deur en deur ken. Stap twee is dat ek ontdek
dat Hy nie oordeel nie, maar my onvoorwaardelik liefhet en vergewe. Derdens mag
ek glo dat ek vir Hom kosbaar is en dat Hy my aanvaar soos ek is, en dat ek daarom
my diepste vrese by Hom kan aflê. Laastens mag ek Sy liefde en vergifnis vir my
ontvang en vry kom van alles in my lewe wat my moeg maak. Die geheim lê in
onvoorwaardelike liefde. Ons kan dit ook genade noem.

Hierdie bevryding moet verkieslik voor die ouderdom van 20 gebeur, maar kan op 70
ook 'n groot verskil maak! Ek kan aan geen beter psalm as Ps.139 dink om ons
hiermee te help nie.

Sterkte!

Wilhelm

Musiek keuse: Nearer, My God, to Thee

Oordenking: Don. 2 Sept 2021
Teks: Ps. 16

Ons ken gebed die beste as 'n manier om vir God 'n paar dinge te vra. Ons het baie
behoeftes en soms erge nood, dan kom die versoeke spontaan. Soms sal ons ook
dankie sê, want God gee dikwels wat ons vra. Daar is egter ook baie ander kante
van gebed wat ons nie by uitkom nie, soos om net by God te rus. Ons ken dit nie
goed nie, want ons het nie baie tyd vir rus nie. Trouens, rus beteken om net by God
te sit in stilte, en dit maak ons ongemaklik. Daarom lê ons ons versoeklysie voor en
gaan aan met ons dag.
Om net by God te sit en peins maak ons ongemaklik. Stilte ken ons nie. Tog is dit 'n
kant van gebed wat ervarings met God oopmaak wat ons telkens verras. Ferdinand
Deist het jare terug al geskryf: "Om in die alledaagse gesloer, of in die koue van
onsekerheid, bewus te word van God se handpalm op jou – dit is egte gebed."
Gebed is dus meer luister as praat.
In die jaar 1100 nC skryf Anselmus, die aartsbiskop van Kantelberg, reeds hieroor
soos volg: "Kom nou brose mensie, draai jou rug vir 'n rukkie op jou daaglikse
bedrywighede. Kom 'n oomblik weg van die chaos van jou gedagtes; vergeet van jou
vele sorge, laat alles wat jou aandag verg 'n paar minute wag - Ja, maak jouself los
vir 'n afspraak met God en sê: Here, ek kom by U tot stilte."
In die jaar 2021 is stilte skaarser as ooit. Ons het intussen televisie en selfone gekry.
Ons lewenstempo het verdubbel. Stilte maak ons bang, want ons ken dit nie. Stilte
bring ons in aanraking met ons diepste emosie en behoeftes, en dit is nie 'n
gemaklike plek om te besoek nie.
Die moeilikheid is dat ons op die manier kontak verloor met ons ware self. Daar lê
emosies en behoeftes in ons gemoed rond wat op 'n diep vlak ons denke en gedrag
bepaal, maar ons besef dit nie. Ons wonder waarom ons so liggeraak is oor sekere
sake, ons verstaan nie waarom ons strewes het wat ons net nie kan beheer nie. Dit
is vir ons vreemd dat ons ongemaklik raak as die radio nie speel nie en die selfoon
af is. So hardloop ons eintlik by onsself verby.
Ek weet nie of jy genoeg tyd sal hê om rustig te raak en 'n bietjie oor die volgende
verse te peins nie. Sit gemaklik, ontspan jou spiere en haal diep asem. Probeer om
net by God te wees sonder enige druk om iets te doen. Probeer om jou gedagtes te
fokus op die volgende verse:
Neem my in beskerming, o God. (Dink daaroor na)
Ek het vir die Here gesê: Ek behoort aan U. (Koester die gedagte)
Here, U is my lewe, U sorg vir my. (Rus in die woorde)
Daarom is ek bly en voel ek veilig. (Herhaal dit in jou gedagtes)
U leer my hoe om te lewe, by U is daar oorvloedige blydskap. (Ervaar jy dit?)By
Uit u hand kom net wat mooi is (Ervaar die emosie van die woorde)
Om net by God te wees, is 'n gawe van Bo. Dit is ware troos.

Mooi dag!
Wilhelm

Musiek keuse: As ek stil word

Oordenking: Woensdag 1 Sept. 2021
Teks: Ps 61 en 62

Vandag is Lentedag. In die natuur is dit simbolies die begin van 'n nuwe seisoen. By ons is dit nog koud en nat en die storms maak nog nie juis ruimte vir die lente nie. Dit is in sulke tye wat ons leer om uit die belofte te lewe dat die lente oppad is. Die bloeisels sal kom, ons moet net geduldig wees. So werk die natuur, die eerste bloeisels is die belofte dat die somer oppad is.

In ons lewe werk ons ook met seisoene. Soms voel dit vir ons of dit wintertyd is. Dit is dalk 'n tyd van afskeid vir jou, of die aanvaarding van veroudering en die implikasies daarvan. Jy het moontlik deur 'n egskeiding gegaan of jy kon jou kinders vir 'n lang tyd nie sien nie. Daar is mense wat tussen ons woon en tog eensaam is. Wat maak jy op 'n Sondagmiddag as families bymekaar kuier en jy sit alleen in jou huisie of kamer? Wie nooi jy om saam met jou te gaan koffie drink? Jy ervaar moontlik daardie leë gevoel na kerk as almal in hulle motors klim en wegry, en jy moet alleen na 'n leë huis terugkeer. Die hartseer is dat ons tussen mekaar leef en nie altyd bewus is van mekaar se behoeftes nie.

Ons gaan nie aanmekaar oor inperking praat nie, maar die afgelope jaar se omstandighede het eensaamheid seker laat verdubbel. Ons mis veral die hartlikheid en saamkuier by die kerk en Dienssentrum. Ons werk aan planne om weer na kerk tee te drink, al is dit op die parkeerterrein! Die teetuin by die Dienssentrum begin darem weer Vrydagoggend. Gaan loer gerus in.

As ons Ps 61 lees, verwoord Dawid die gevoel van troosteloosheid in sy gebed. Baie van ons kan daarmee identifiseer. Vers 3b: "Bring my op 'n rots waar ek veilig sal wees." Vers 5: "Laat my by U 'n blywende tuiste vind. Laat my skuil onder u vleuels." Moontlik is jy tans op so 'n plek. Dit voel of jy gly en nie uit die gladde plekke kan kom nie. Dan kan jy Ps 61 saam met Dawid bid.

Die wonder is dat Dawid se gebed net in die volgende Ps 62 beantwoord word! Hy doen 'n belydenis: "Net by God vind ek rus!" Die hele psalm is 'n getuienis dat God 'n man wat soos 'n klipmuur wil omval, weer stewig laat staan. Hy gebruik sterk woorde soos redding, krag, rots, sterkte en toevlug. Dawid sluit af met die aanmoediging in vers 9: "Vertrou altyd op Hom, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons 'n toevlug."

Mag jou lewe ook soos Dawid s'n skuif van Psalm 61 na 62. Dalk wil jy vanaand saam met ons in die kapel om 18h00 net kom stil word en Sy vrede ervaar. Dis 'n halfuur waarin ons met musiek en bepeinsing van die Woord die wonder van God se teenwoordigheid geniet. Dit is soos vers 6 sê: Net by God vind ek rus. Dit is 'n vrede wat alle verstand te bowe gaan. Rus in Hom.

Vrede vir jou.

Wilhelm

Musiek keuse: In Christ Alone

Oordenking: Dins 31 Aug 2021 Psalm 4:7-9

Gisteraand was dit ons voorreg om na die twee kleinkinders te kyk. Dit is 'n avontuur, want niks in die huis is meer dieselfde nie. Die sitkamer is 'n speelpark, die studeerkamer is 'n televisiekamer, die kombuis is die stoorplek vir 'n paar motortjies en die kussings van die banke lyk soos spoelklippe in die gang. Dit is pret, veral die badtyd! Toe ons hulle uiteindelik skoon en met vol magies in die bed het, is dit 'n kans vir Bybellees. Die gebed voor slaaptyd lui so: "Jesus, ek is 'n kindjie klein, maak my hartjie rein. Amen." In my agterkop was ek nog bietjie onrustig, want dit word laat en ek moet nog die dagstukkie skryf en wegstuur voor môre. Daar was net nie deur die dag 'n kans om dit te doen nie. Nou is dit al laat en die stukkie is nog nie geskryf nie!

Ek dink later weer oor die kindergebedjie voor slapenstyd. Ek verbeel my die groot Switserse teoloog Karl Barth het in 'n stadium gesê hierdie gebedjie van 'n kind som eintlik alles op van wat ons vir God kan sê. Na al ons teologiese debatte en slim gesprekke oor die Bybel, moet ons uiteindelik weerloos voor God gaan kniel. Dit is wanneer ek nie meer oor God kan praat nie, maar met Hom in gesprek gaan. Alles loop uiteindelik uit op 'n kinderlike vertroue dat Hy my liefhet en dat ek geborge is in Sy sorg. As jy nie daar kan begin met jou geloof nie, bly al die ander gepraat teoretiese spekulasie.

Dit is dus nie vreemd dat ons kerkvaders, toe hulle alles wat ons oor God glo, onder woorde moes bring, begin het met die woordjie troos nie. Hulle kon gevra het watter teologiese teorie jy voorstaan of watter dogma God vir jou die beste beskryf. Hulle kon verduidelik hoe die Drie-eenheid werk en wat 'n mens moet doen om die ewige saligheid te verkry. Tog kies hulle om oor troos te praat…ons enigste troos in lewe en in sterwe.

Dit is dus goed om saam met jou kleinkinders te kniel. Dit is waar ons leer wat troos beteken. Net om te weet oupa of ouma sit hier by my is vir hulle genoeg om rustig in te sluimer. Dit herinner ons as volwassenes dat ons dieselfde behoefte het. Daarom praat ons van ons enigste troos in lewe en in sterwe.

Heidelbergse Kategismus
Vr 1: Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?

Dat ek met liggaam en siel nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser,
Jesus Christus, behoort. Jesus het met sy kosbare bloed vir al my sondes ten volle betaal. Daarom verseker Hy my deur sy Heilige Gees van die ewige lewe en maak Hy my van harte gewillig en bereid om vir Hom te lewe.

Seënwense
Wilhelm

Musiek keuse: LB 292 My enigste troos

Oordenking: Maandag 30 Augustus PS 46
Die gemeenskap van die Heiliges

Ons het gister in die erediens nagedink oor die effek wat die Covid virus op ons lewe het. Dit is al meer as 'n jaar wat ons met hierdie vreemde virus saamleef. Daar sal seker in die jare wat kom baie navorsing gedoen word op die emosionele impak wat dit op ons mense gehad het. Om nie te praat van die sosiale ontwrigting en finansiële impak op ons ekonomie nie!

Dit is dalk wat ons die meeste mis in die grendeltyd. Dink aan die geselsies oor ‘n koppie koffie by die dienssentrum of êrens in die dorp. Onthou die stappies langs die see saam met vriende. Die saamsing in die kerk en die handevat om mekaar te seën doen tog iets aan ons gemoed. ‘n Preek op Youtube het soms goeie inhoud, maar ons soek tog maar iemand met ‘n vel om wat kan troos. Die groot vraag bly of ons samekomste weer sal herstel tot waar dit was voor Covid uitgebreek het. Wil ons weer saamkom?

Die waarde van hierdie gemeenskap en ondersteuning is so belangrik in ons
geloofslewe dat dit in die Apostoliese Geloofsbelydenis opgeneem is. “Ek glo aan die
gemeenskap van die heiliges”. Ons sal hierdie belydenis nooit weer as vanselfsprekend aanvaar nie. God het ons aan mekaar gegee. Jesus noem ons Sy liggaam. In ons saamwees as gelowiges maak die HG sy woonplek.

Doen dus moeite om in die tyd uit te reik na iemand wat alleen is. Net ‘n selfoonboodskap doen al wondere. Dit kan eensaam raak in grendeltyd. Nou is die tyd om aan mekaar te dink, om kontak te behou, mekaar te bemoedig, want ons glo steeds aan die gemeenskap van die heiliges. Jy kan die HG nie inperk nie.

Deur die eeue het die formaat waarin gelowiges mekaar ondersteun telkens verander. Honderd jaar gelede was daar nie iets soos 'n selfoonboodskap of 'n koffiewinkel nie. Vandag leef ons teen 'n vinniger tempo, maar die behoefte aan persoonlike kontak bly dieselfde. Maak 'n lysie van 5 mense wat dit sal waardeer om 'n bemoedigende woord van jou te kry. Dalk word dit 'n daaglikse gewoonte om net 'n boodskap aan iemand te stuur om te sê: Ek dink aan jou vandag!

Gebed: “Here, ek bid vandag vir die mense wat ek mis. Dankie dat ek deel kan wees van die gemeenskap van die heiliges. Dankie dat hulle vir my ook bid. Ja, die God
van Jakob is by ons, Hy is vir ons ‘n beskutting. Amen”

Bly veilig!
Wilhelm

Musiek keuse: Andrea Bocelli Gloria in Excelsis Deo

Oordenking:
Don 26 Aug 2021
Fil.4:4-7

Ons het gister nagedink oor wat Paulus se oproep in hierdie teks vandag kan beteken. Hoe handhaaf jy jouself in 'n harde kompeterende sakewêreld? Wat doen jy as weerlose pensioenaris as jy voel mense lewer nie goeie diens waarvoor jy reeds betaal het nie? Dankie vir sakemanne wat van julle laat hoor het!

Ek haal enkele opmerkings hier aan:
"In ons besigheid is hierdie kwessie veral baie relevant. Ons taak is gefokus om organisasies te help om oneffektiwiteit en vermorsing in hulle waardekettings te elimineer. Dit lei daartoe dat mens baie keer dinge oopvlek om die lig daarop te laat skyn, en dis 'n resep vir konflik! Die groot les hier is dat mens vriendelik dog ferm kan optree MITS mens van 'n feitebasis af werk en nie emosies vooropstel nie. Bid en vertrou dus die Here om jou te lei na die feite van die saak en soek dit met dringendheid. Moet nooit 'n epos stuur wanneer jy kwaad en emosioneel is nie, wag liewer en kyk deur 'n feitelens na wat jy probeer sê."

In ons teks is daar 'n paar begrippe wat belangrik is vir die gesprek. Eerstens roep Paulus ons op om bly te wees in die Here. Hy herhaal die oproep selfs!

Dit beteken dat my diepste identiteit en lewensdoel gebou is op die liefde en genade van die Here. Ek is geanker in Sy onvoorwaardelike liefde en aanvaarding. Ek hoef aan niemand iets te bewys nie.

Vanuit hierdie stewige basis kan ek vriendelik en inskiklik wees. Ek hoef niks te verdedig nie, ek fokus op die saak alleen. Dit is waarskynlik wat bly wees in die Here beteken. Vanuit so 'n onbedreigde posisie kan ek ferm optree volgens wat reg en billik is. Ek kan onreg of brouwerk kalm uitwys, ek kan verskil van opinie sonder om persoonlik te raak, en ek kan fokus op die beginsel van die saak en nie persoonlike agendas verdedig nie.

Ek het 'n vermoede dat ons land mense nodig het wat so kan fokus op wat reg en billik is. Mense wat nie gerig is op persoonlike voorkeur of gunste nie. Mense sonder geraamtes in die kas. Mag ons jongmense met geestelike moed hierdie roeping opneem en staan vir skoon regering, eerlike besigheid en persoonlike integriteit. Mag ons die moed hê om sonder huiwering korrupsie uit te wys en te beveg, om kontrakte sonder guns en gawes te beding, om mense volgens hulle bekwaamheid aan te stel en om foute eerlik in die oë te kyk. Ons het jong leiers uit alle groepe nodig om 'n nuwe styl van leierskap te vestig. Dit gee ons hoop as ons sulke jongmense om ons raaksien.

Hulle is toegewy aan Christus en oortuig van hulle roeping om 'n verskil te maak. Ons wat ouer is wil agter hulle inskuif om hulle te bemoedig vir 'n uitdagende roeping. Mag God ons genadig wees en ons gemeenskap seën met 'n nuwe geslag leiers!

Moed hou!

Wilhelm

Musiek keuse: Doen slegs U wil Heer

Oordenking: Woensdag 25 Aug 2001
Fil.4:4-5

Nadat Paulus in Fil 4:4 ons aangemoedig het om bly te wees omdat ons verbind is
aan Christus, praat hy in vers 5 oor inskiklikheid. Die 2020 vertaling lui so: "Laat julle
vriendelikheid aan alle mense bekend word." Die ouer vertaling lui: "Wees inskiklik
teenoor alle mense."

'n Mens wonder hoe dit rym met assertiwiteit, die gonswoord van ons tyd. Die woord
beteken in gewone Afrikaans: Moenie met jou laat mors nie! Dit klink na presies die
teenoorgestelde van wat die Bybel ons aanmoedig om te doen. Die vraag is: Kan
inskiklike mense in ons dag oorleef? Mense wat in die sakewêreld staan sal ons hier
moet raad gee. Hoe oorleef christene daar buite waar die Engelse spreekwoord lui:
"Nice guys come second?"

Ek sal graag u mening wil hoor oor hierdie saak. Ek is hopeloos op assertiwiteit. Ek
wens soms ek kon vir iemand goed vertel hoe kwaad ek is oor sy diens. Ek kom
egter agter dat as ek met mense raas, hulle dink ek komplimenteer hulle! Mense
kom weg met moord as hulle agterkom jy gaan hulle nie opneem op julle
ooreenkoms nie. Waar trek 'n mens die streep en hoe trek jy die streep?
Dr Johan Cilliers skryf hieroor as volg: "Die Griekse woord wat Paulus hier gebruik,
dui letterlik op ’n sagtheid van hart, op ’n hart wat maklik vermurf, op gebrokenheid
voor die Here. Dit verwys na die lewensingesteldheid van iemand wat weet dat hy of
sy alleen uit die genade van die Here kan leef, en wat daarom ook ander mense uit
hierdie genade wil laat leef. Dit verwys na mense wat die nabyheid van die Here só
gesmaak het dat hulle ander dit ook gun. Inskiklike mense leef oop en bloot voor die
Here, is afhanklik van en sensitief vir sy nabyheid. Hulle voete kom met
vriendelikheid in beweging na die wêreld toe, na alle mense toe, sonder onderskeid."

Martin Luther het gesê die styl van ons hoop lyk by uitstek só: om bly te wees voor
die aangesig van God en vriendelik voor die mense.

Dit is die ideaal. Dit kan ons toepas in die gemeente. Ek is onseker hoe sakemanne
en vroue daar buite hulleself moet handhaaf. Ek vermoed dit beteken dat jy ferm
moet wees op wat reg is en wat ooreengekom is. Dit beteken egter nie dat jy daal tot
die persoonlike vlak waar mense mekaar se karakters aanval nie. Dit regverdig nie
dat jy jou humeur verloor en mense persoonlik beledig nie.

Kan vriendelike mense in ons dag oorleef? Stuur gerus vir my 'n epos na
wb@ngkonrusrivier.co.za. of skakel my dat ons kan gesels. Ons sal graag wil hoor of
Paulus se mooi woorde in 2021 steeds toepaslik is.

Ons wat rustig werk in die veilige ruimte van die kerk, dink met deernis aan julle wat
in die harde werklikheid van elke dag daarbuite as christene probeer leef. Ons moet
saam onderskei wat die Woord vandag van ons vra. Ek sal julle bydraes anoniem
hanteer, maar ons wil baie graag luister na elkeen se ervaring van hierdie teks in
2021.

Sterkte en ons bid saam vir wysheid!

Wilhelm

Musiek keuse: Wees U my toevlug

Oordenking: Dins. 24 Aug 2021
Teks: Gal. 5:13-26

Gister het ons nagedink oor die grootsheid van die skepping en hoe ons ons daaroor kan verwonder. Ons moet doelbewus leer om opmerksaam te wees. Ons moet ver kan kyk sodat ons beter naby kan sien.

Ons moet dus nie net leer om ver te kyk nie, ons moet ook leer om fyner op te let. God se sorg is soms sigbaar in die klein dingetjies wat om ons gebeur. As ons dit begin raaksien, word elke dag gekleur met klein straaltjies lig wat in elke situasie inskyn. Niks is meer vanselfsprekend nie. Dankbaarheid bring 'n soort sagtheid na ons gemoed.

Die eerste strale van die son wat by die kamer inskyn, die warmte van die eerste koppie koffie of tee in die oggend, die hartlike groet van jou bure, die drukkie van 'n kleinkind, die vriendelike gesprek met die kassier by die toonbank…alles vol betekenis en lig! 'n Positiewe warm gesindheid bring vreugde en lag in verskeie daaglikse kontakte. Dit lig nie net jou gemoed nie, maar bring ook 'n glimlag op die gesig van iemand wat jou pad gekruis het.

Ons het nie altyd 'n keuse oor wat met ons gebeur nie, maar ons het meestal 'n keuse oor hoe ons daarop gaan reageer. Ek kan kies om kwaad te word vir die man wat voor my indraai, my bloeddruk styg en ek wys 'n kwaai vinger in sy rigting. Hoe durf hy! Ek kan ook kies om vir hom plek te maak en vriendelik vir hom te waai. Bedagsaamheid en geduld bring kalmte en medemenslikheid. Dit verander 'n bloedige konflik in 'n oomblik van betekenis.

Ons kan dit oefen in die verkeer, by die toonbank, om die etenstafel en langs die sportveld. Dit kan 'n waarde in gesinne word…ons maak ruimte vir mekaar. Dit mag meebring dat hierdie waarde oorspoel na die politiek en by die werksplek. Dit kan sigbaar word by die kantoor en in die klaskamer. Ons kies doelbewus teen kleinlikheid en vir medemenslikheid en geduld.

Geesdriftige mense bring warmte om hulle, want die vrug van die Gees is vriendelikheid. Gal.5:22 beskryf die sonskyn oomblikke van geduld, wat met selfbeheersing saamhang, wat uitloop op vriendelikheid en gedra word deur goedhartigheid en liefde. Paulus stel hierdie lewenshouding teenoor verwaandheid, uittarting en afgunstigheid.

Dit vra beslis 'n keuse. Dit word bepaal deur die manier waarop ek na die lewe en na mense kyk. Dit hang af hoe sterk die eie ek staan in my gemoed. My wil moet geskied! Daarom begin Paulus om te praat van die vrug van die Gees in vers 22. Daar moet 'n nuwe perspektief kom op die lewe, 'n soort dankbaarheid en vergenoegdheid wat uitloop op geduld, medemenslikheid en deernis. Dit is moontlik, maar dit kom nie sonder bekering nie. Ek moet sterf aan my selfsug en eie belange. Dit is 'n pynlike proses, maar as ek daar deur is, is die vrede en vreugde onbeskryflik! Paulus gaan so ver om te sê dat dit alle verstand te bowe gaan…

Mag ons almal daarby uitkom!

Seënwense
Wilhelm

Musiek keuse: Neem my lewe, laat dit, Heer


Oordenking Maandag 23 Aug 2021
Skrif: Psalm 4

Te midde van 'n lewe vol donker bedreigings en somber oomblikke word ons soms
aangenaam verras deur oomblikke van skoonheid. Op die laaste dag van ons
vakansiereis van 4000 km ry ons Saterdag terug deur die Overberg. Dit is 'n helder
dag met groot wit wolke wat in die lug hang. Vanaf Heidelberg word ons verras met
die helder geel Canola-lande en die groot wit wolke wat die skouspel afrond. Teen
die agtergrond is die pragtige berge van die Overberg. Dit is 'n prentjie wat 'n mens
selde sien. Soveel kleur en skoonheid laat ons in verwondering!

Dit is sulke oomblikke van skoonheid wat ons help om die somber kante van die
lewe te hanteer. Ons noem dit ritmes van genade. Dit is wanneer ons Hemelse
Vader met deernis besef dat ons ook net soveel slegte nuus kan hanteer. Dan verras
Hy ons met oomblikke van skoonheid, van deernis of sommer net dankbaarheid vir
die lewe.

Soms kom dit deur die prag van die natuur, soms deur iemand wat jou pad kruis en
jou dag opvrolik, soms deur 'n Skrifgedeelte of boodskap wat jou inspireer. Dikwels
kom hierdie hoopvolle oomblik deur musiek na ons toe. Dit tel ons op en laat ons vir
'n paar oomblikke die skoonheid van musiek beleef.

Die kuns is om hierdie oomblikke te herken en te koester, anders gaan dit ongemerk
by jou verby. Wat 'n verlies! Die gawe van bedagsaamheid is dus om God se
verrassingspakkies raak te sien. Die geskenk van dankbaarheid is om oomblikke te
koester en met jou saam te dra. As ons opmerksaam bly lewe, kom ons uiteindelik
by vergenoegdheid uit.

Vergenoegdheid is nie om alles te hê nie, maar om dankbaar te wees vir die klein
gawes wat oor jou pad kom. Dan leer jy om op die positiewe te fokus en dit te herkou
soos 'n smaaklike stukkie kos. Hierdie gewoonte moet aangeleer word. Dit vra 'n
keuse om doelbewus op die uitkyk te wees vir stukkies sonskyn langs die pad. Ons
sal verbaas wees hoeveel daarvan ons leer raaksien.

Psalm 4 se laaste verse (7-9) praat ook hieroor: "Daar is baie wat sê: Wie sal dit
weer met ons goed laat gaan? U het my reeds groter vreugde laat belewe as wat
daar is by mense wat koring en wyn in oorvloed het. Nou sal ek onbesorg gaan lê en
dadelik aan die slaap raak, want, Here, U alleen laat my veilig woon."

Hoe langer ek op hierdie gewoonte fokus, hoe meer sal ek agterkom dat die sonkolle
in my lewe meer word… en dat skoonheid eintlik rondom ons is. Ons moet net leer
om dit raak te sien!

Dit is die gawe van bedagsaamheid.

Seënwense
Wilhelm

Musiek keuse: The Lord Bless You And Keep You

Daaglikse oordenking: Donderdag, 19 Augustus 2021

In aansluiting by gister wil ek vandag ‘n baie spesiale teks met u deel uit Psalm130 en Psalm 131. Hierdie 2 Psalms loop saam. Ps. 130 fokus daarop om op die Here te wag. Dit gaan oor ‘n ingesteldheid op God se teenwoordigheid. Om ‘n verwagting van God te koester. Eerstens dat Hy persoonlik teenwoordig sal kom in ons lewens en verskillende omstandighede. Dan raak ‘n mens ook bewus van dit wat nie tot eer van God in jou lewe is nie. By God is vergifnis.

Ons stel ons totale vertroue in die Here, gefokus op God self. Hy is getrou aan Sy eie wese. Hy is God, alomteenwoordig en almagtig. Sy teenwoordigheid stroop my ook daarvan om te veel van myself te dink en van hoogmoed teenoor ander mense. Ek begin dinge in perspektief sien. Ek besef hoe klein en afhanklik ek van God is en hoe almagtig en groot Hy is. Die dinge wat vir my te groot is, begin ek deur God se perspektief te sien en dan maak dit my nie meer bang nie. Ek gee dit vir Hom en fokus op God i.p.v. op al die groot en onverstaanbare dinge.

Ek vind rus en kalmte by en in God. Ek sien myself soos ‘n baba in die arms van sy/haar moeder, tevrede en vergenoegd, in die arms van God. Ja, ons kan ons almal die prentjie voorstel hoe ‘n baba deur ‘n moeder gevoed word, gekoester word, die intieme gesprek van die moeder met haar baba … Die veilige gevoel, die omarming…

Dit is die prentjie wat Dawid hier van homself in God se arms gesien het. God het ook ‘n moederhart in Sy binneste verskuil. Hy is ons Vader, maar hier ontdek ons iets wat net ‘n moeder kan ervaar, die koestering van ‘n baba in haar arms, terwyl sy hom voed. Ons het dit almal nodig om op so ‘n plek met God te kom. Sy sagte hart te ervaar, oor te gee aan Sy arms wat ons sag maar duidelik vashou sodat ons veilig voel… Totaal geborge en oorgegee.

Kom ons maak tyd en erns hiermee. Sodat ons God op ‘n veel dieper en inniger manier kan ervaar. Sodat ons vry kan kom van spanning en vrees en die vreugde van Sy Almag en sagte koestering van Sy “Moederhart” kan ervaar.

 Michiel

Daaglikse oordenkings:
Woensdag,18 Augustus.

Augustus is Vrouemaand.
Te midde van alles wat gebeur, is dit tog dalk goed dat ons nie vergeet om hulde te bring aan ons moeders nie.
Elkeen van ons het ‘n moeder uit wie ons gebore is. Iemand wat ons in hierdie wêreld gebring het. Iemand van wie ons totaal afhanklik was om te kan lewe. Iemand wat deur God gebruik is om ons die lewe in te dra en te koester sodat ons spesiaal kan voel en wees.

As ek aan my eie ma dink, onthou ek dit is sy wat my leer bid het toe ek nog klein was. Sy wat vroeg oggend met haar Bybel in die huis na ‘n stil kamer gegaan het waar sy vir ons gebid het en ingetree het. Sy het altyd vir waarheid en regverdigheid opgestaan. Dis sy wat die Bybel gelees het wanneer ons huisgodsdiens gehou het.

My moeder was ‘n boervrou. Sy het ingesuur met die soetsuurdeeg om die volgende oggend om 4 vm. op te staan en die suurdeeg en die meel te meng sodat dit geknie kan word om die heerlikste groot bruinbrode te bak. Sy kon soutvleis maak in die balie, slag en vet uitbraai en kaiings maak. Koffiebone op die Agastoof braai tot dit reg is en later is dit gemaal om die heerlikste vars moerkoffie in die koffiesak en kan te maak. Sy het seep gekook en vleis bewerk. Soos die vrou van Spreuke het sy haar gesin versorg en gevoed, fisies en geestelik. Sy was daar as ons seergekry het, sy het dokter toe gejaag toe my duim tussen die onder - en die bodeur middeldeur gemaak is….

Pa is op vele maniere in die boerdery ondersteun. Die papierwerk van die boerdery het ook aandag gekry. Dan was daar hoenders en makoue en eende, kalkoene en hanslammers. Honde en katte. Ja, daar was helpers wat gehelp het, maar Ma was daar, sy het gesorg. Kosmaak het baie tyd gevat, blaardeeg vir hoenderpastei, bredies, soetpatats om van die varkjuweelboud nie eens te praat nie.

Ek wil u uitdaag om die storie van u moeder te skryf. Dalk is jy nog op skool of pas daaruit en leef jou ma in ‘n ander era as wat myne geleef het, maar elkeen het sy eie uitdagings. Die vraag is of ons die dank en die hulde bring aan die mense wat die Here gebruik het om ons die lewenslig te laat sien en hulleself vir ons opgeoffer het. As sy nog leef, doen dit. As jy geseën is met mooi herinneringe, dank God daarvoor.

Die Woord sê nie verniet “Eer jou vader en jou moeder, sodat jou dae verleng kan word in die land wat die Here jou God aan jou gee nie.” Deut. 5v. 16. Daar is nie foutlose ouers nie, net so min as wat ek self is, maar as ons onderskei en selfs met genadige oë na hulle kyk en bou op die offer van liefde, sal ons geseënd wees.

Michiel

Oordenking Dinsdag
17 Augustus
Handelinge 28:1

Maak ander se laste ligter!
Ná `n maand se SWAARKRY op see, het Paulus uiteindelik in Rome, die hoofstad van die wêreld van sy tyd, aangekom. Hy moes daar voor die keiser verskyn – ‘’heavy days’’! Maar... sy grootste vreugde was toe die gelowiges van Rome hom net buite Rome kom ontmoet het. Hulle het Paulus leer ken deur die brief wat hy aan hulle geskryf het (die brief wat vandag in die Bybel bekend staan as Romeine), en nou het hulle mekaar in lewende lywe ontmoet.

Gelowiges is altyd opgewonde wanneer hulle in vreemde / onbekende plekke ander gelowiges ontmoet. Ek onthou toe ek `n aand in Ivory Park, Thembisa gebly het en ek helemaal uit my diepte was. Toe ek die gelowiges van daardie omgewing ontmoet, het daar dadelik `n misterieuse vrede oor my gekom – daar was `n gemeenskaplike band in Christus wat alle onsekerhede laat vervaag het.

Word u ook bemoedig deur medegelowiges? Geniet u dit om in die teenwoordigheid van ander kinders van die Here te wees? Is hulle stralende ligte in u eie lewe?
Nog belangrikker: Is u `n baken van hoop vir ander gelowiges? Straal u liefde en warmte uit? Wil ander gelowiges graag in u geselskap wees? Sorg dan dat u elke dag die Here se vrede en liefde weerkaats. Hoe doen mens dit? Deur deurlopend in die hemelse kragstasie ingeprop te wees. Soos die ingilsman sê: ‘’Consistency is KEY”!

IS dit nie fantasies dat die Here so kragtig deur `n mens kan werk dat ander ook daarvan bewus raak nie? Ons wêreld is so onsettend kragteloos. Die meeste mense strompel hulpeloos rond sonder hoop en sonder rigting. Maar wanneer `n mens daagliks ingeskakel is by die hemelse kragstasie, dan verander `n mens in `n lewende seën vir ander – dan verander die atmosfeer rondom jou. Hierdie verandering vind plaas nie omdat ons dit moontlik maak nie, maar omdat ons as instrument deur ons magtige God en hemelse Vader gebruik word.

Geseënde Dinsdag!
Anton

Oordenking
Maandag 16 Augustus
Kolossense 4:2

Sukses vra harde werk! Vra maar vir enige suksesvolle persoon. Daar is geen kortpaadjies nie. Dissipline, vasbyt, doelgerigtheid – sulke dinge kenmerk toppresteerders se lewe.

`n Lewe waarin God verheerlik word, vra deursettingsvermoë. Sonder geestelike stamina is jy gedoem tot middelmatigheid. Dan val jy oor elke nuwe sonde wat in jou pad kom. Paulus weet hoe noodsaaklik geestelike oefening is. Daarom dat hy ons oproep om geestelik te oefen. Hoe? Wel, die antwoord is duidelik: deur AAN TE HOU BID! Gebed verander jou in iemand wat geestelik fiks genoeg is om vinnig van sonde af weg te hardloop en wat voluit hardloop op die Here se pad!

Wanneer jy weet met watter doel jy jou inspan in die Here se diens, en ook hoe om dit reg te doen, is jy gemotiveerd om jou doel te bereik. Christene wat egter nie mooi weet waaroor geloof regtig gaan nie, karring voort saam met die stroom van middelmatigheid wat vandag baie breed deur die kerk vloei. Die oplossing is geestelike vasbyt!

Meer korrek: Volhard in gebed. Is jy moedeloos? Wel, bid dan! Is jy geestelik uitgeput? Bid dit uit die pad uit. Is die kerk te dood na jou sin? Bid daaroor. Gebeur daar nie meer wonderwerke in jou lewe nie? Val dan op jou knieë neer en soek die aangesig van God, totdat Hy jou in genade aansien.

Leer om die Here met ALLES te vertrou. Jou geloof moet die hartklop van elke gebed vorm. Sonder `n vaste geloof dat God die hoorder van jou gebede is, is jy soos `n golf wat heen en weer geslinger word. Sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag. Geloof is om God op sy woord te neem en te vertrou dat Hy jou hoor en verhoor om Christus ontwil.

Geseënde Maandag.
Ds Anton

OORDENKING DONDERDAG 12 AUGUSTUS 2021
Kolossense 1: 8 – 12

Gesie wou in die vakansie vir ‘n paar kleinkinders gaan wys hoe lyk die plek waar die Boekklub stories afspeel, en so land ons toe in Merweville in die koudste naweek van die jaar. Sandbaai se kinders kon toe ook sommer sien hoe lyk dit as ons motors en die voëlbad toe ge-ys is. Ons het vir die twee dae die winterson geniet deur die dorp se strate te deurkruis en van die koppies buite die dorp uit te klim.

Ons toer deesdae die hele land plat, maar ons het nog nie elders ‘n plattelandse dorpie gesien wat so skoon, netjies en vriendelik soos Merweville is nie.
Een van die hoogtepunte was toe die orrelis, wat ook koster is, vir ons die pragtige kerkgebou oop sluit en wys. Toe ek vir haar sê hoe pragtig en skoon die dorp vir ons is, was haar antwoord dat “ons lief is vir ons dorpie en daarvan hou om dit mooi te hou”. Ek het daar in die kerk gestaan en dink dat hulle dalk, ten spyte van jare se droogte en die inperkings wat hulle groot jaarlikse bazaar vir die tweede jaar verongeluk het, snap wat Onrusrivier gemeente se leuse is: WEES LIG!

Paulus help ons in vandag se paar verse in Kol. 1 om te verstaan hoe ons deel van die Lig moet wees, omdat die Vader ons geskik gemaak het om te deel in die Koninkryk van die Lig( vers 12).

Die gemeente in Kolosse se leier, Epafras, het vir hom vertel hoe die Gees die liefde in die gemeente gewek het, en daarom praat Paulus oor die dinge waaroor hy spesiaal vir die gemeente bid, en dus ook vir ons. Hy vra dat ons gemeente se mense die regte kennis en wysheid sal hê, sodat ons tot eer van die Here sal leef en doen wat Hy verlang. Ons moet die regte vrugte dra, en God se plan vir ons lewe verstaan. ”God is die Een wat oor goddelike krag beskik. Mag Sy krag júlle krag word, sodat julle nie ongeduldig word en begin moed verloor nie. Nee, staan vas en hou moed” (vers 11 in Die Boodskap Vertaling).

Onthou, Paulus skryf die woorde uit die tronk in Rome. Hy het meer rede as ons in die ongemaklike jaar 2021, om mismoedig en ontevrede te wees, om te kla oor sy inperking en frustasies, maar hy kla glad nie. Hy verheug hom eerder daarin dat die christene in die stad Kolosse in Christus glo en hulle geloof en liefde duidelik uitleef. Húlle is regtig lig!! 1 Joh 2 :9-10 sê nogal lig en liefde loop saam.

Ek hoop Paulus inspireer jou om vandag jou geloof en liefde uit te leef. Onrusrivier se gemeente slaag daarin om ten spyte van ons inperkingstye, uit te reik na ander mense en instansies in ons dorp en land om hulle te bemoedig wat swaarkry, honger is, siek is, bang is. Jy kán mos daarmee help.

WEES LIG beteken: wees waaksaam, stap saam, bid saam, leef saam in liefde !

Christo

OORDENKING WOENSDAG 11 AUGUSTUS 2021
Efes 6: 18

“Wees waaksaam en bid gedurig vir al die gelowiges. Bid ook vir my” sê Paulus in Efes 6. Maar hoe bid mens gedurig, vir almal, en dan ook nog vir ‘n spesifieke ander persoon?

Jare gelede het ons gemeentes elke week ‘n gemeentebiduur gehad, in die pinkstertyd sommer 10 aande na mekaar. In die Paarl het oom Frans altyd eerste gebid. Hy was so angstig om eerste te bid dat hy die kerkbank voor hom begin vasvat het om op te staan as dit klink of die predikant met sy preek begin klaarkry. Hy het altyd begin met “Liewe Jesus sien ons saam, hier op u bevel vergader”. Dan het oom Frans die preek begin opsom ingeval die mense nie verstaan het nie, en langerig gebid vir die gemeente, die dorp, die plekke met droogtes, ensomeer.

In die sewentigerjare met die groot vloed in die Oranjerivier het ek die aand gepreek. Ek was nog nie heeltemal by die preek se amen nie, toe staan oom Frans al. Maar die aand begin hy sy gebed heeltemal anders en val sommer weg met: “Here, ons het op die sesuuur nuus gehoor oor ‘n uur tref die groot vloed vir Upington. Ons het gewonder of ons sal tuisbly om die seweuur nuus te luister, maar toe het ons besluit dis nou juis tyd om te bid en biduur-toe gekom”. Na ‘n oomblik se stilte sê oom Frans toe: “Here, U alleen weet wat gaan nou in Upington aan”.

Ek kon van die kansel sien hoe glimlag almal, ek het ook. Maar later die aand toe ek rustig nadink oor die biduur, het ek besluit oom Frans se gebed was regtig die eerlikste, reguitste praat met God van die aand. Selfs meer openhartig as my preek.

Hoe openhartig praat jy met die Here?

Paulus help ons en noem in Efesiërs 6 ‘n hele handvol dinge om voor te bid. In verse 1 tot 9 praat hy oor die verhoudings tussen mense, en dié, weet ons, het altyd gebed nodig. Vanaf vers 10 praat hy oor die christen se wapenrusting vir moeilike tye: om in die Here jou krag te soek, om weerstand te bied in slegte dae, om vas te hou aan waarheid, vergifnis, geloof, vrede en jou verlossing. En hoe kan ons dit regkry?

Doen dit alles biddend en waaksaam sonder om dieselfde rympies elke keer te herhaal.

Die Boodskap vertaling van vers 18 is vir my ‘n preek op sy eie: “Dit maak nie saak wat gebeur nie, julle moet altyd bid. Praat met God en vra Hom wat julle wil weet. Die Heilige Gees sal julle daarmee help. Onthou dit en moenie julle onkant laat vang nie. Moet ook nie vergeet om vir julle mede-christene te bid nie. En moenie van my vergeet nie”.

Waaksaam = Saambid!

Praat gerus openhartig met die Here, Hy ken jou goed!

Christo

OORDENKING DINSDAG
10 AUGUSTUS 2021
Mat 26: 36-46

Jesus se woorde in Mat 26: 37-38, toe Hy sy dissipels gevra het om saam met Hom te waak, het jare gelede op ‘n vreemde manier in my ore, en hart, te lande gekom. ‘n Lidmaat het my daardie middag kom opklop en hy was duidelik ontsteld. Hy vertel toe dat hy nounet uit die Kaap terugkom, en met my moet gesels voor hy huistoe gaan. Die dokters het bevind hy het ‘n ongeneeslike breinkanker en dat hy nog net ’n paar maande oor het om te lewe. Hy vra dat ek asseblief vir die paar maande met hom en sy gesin sal saamstap en hom begelei. Maar ek moet een ding verstaan, sê hy toe: “Vir my is die tyd van pretensie verby. Ek kan nie meer voorgee alles is orraait as dit nie is nie. Maar dan moet jy as predikant dit ook doen. Wees my vriend, nie net my predikant nie. Stap saam met my en help my om eerlik te wees en veral om eerlik te bid in die weke wat kom. Toe Jesus in die tuin van Getsemane doodsbenoud was, het Hy sy dissipels gevra om saam met Hom te waak en te bid, daarom vra ek as lidmaat wat bang is vir die dood vir jou : kom waak en bid asseblief saam met my.”

Dit het ‘n paar moeilike, maar interessante maande geword, ‘n tyd waarin ek as jong dominee baie geleer het by ‘n ouer man. Veral oor die gevaar van pretensies, en hoe om eerlik op ‘n lidmaat se slegte stuk pad saam te stap. Soms het ons saam gelag, soms saam gehuil. Soms het hy gevra ek moet net by hom sit en niks met hom praat nie, net stilweg bid. Soms het ons saam tee gedrink, soms ‘n glasie wyn. Soms het ons saam kwaad geword vir die kanker, vir die lewe, vir die Here. Soms was ons saam dankbaar, veral as sy vrou en kinders by was. En na 3 of 4 maande kon sy gesin en ek hom saam aan die Here afgee, rustig en in vrede.

Die soort saamwaak, saamstap, saambid, vir mekaar tyd maak, het in ons covidtye se inperkings onmoontlik geword. Ons neem van vriende afskeid sonder om hulle te besoek tydens hul siekte. Dominees moet lidmate begrawe sonder dat hulle die persoon in die hospitaal kon besoek en ondersteun. Die masker en die verpligte afstand van mekaar maak ons stom en dom.

Daarom pleit ek vandag by jou dat ons betyds meer tyd saam met ons vriende en familie moet spandeer. Dalk moet ons leer om saam te waak en saam te bid terwyl dit goed gaan en almal gesond en beskikbaar is, voor die nuwe Getsemane hulle buite ons bereik plaas in die hospitaal. Dalk moet ons betyds ons eie pretensies prysgee en eerlik met mekaar wees, veral as dit nie goed gaan nie. Dalk moet ons meer vir mekaar bid, en dit ook vir mekaar sê.

En, natuurlik, moet ons, sonder pretensies, met die Here Jesus oor mekaar praat. Ons is mos immers Sy gestuurdes. Hy sluimer gelukkig nie in soos sy dissipels nie. En Hy kan help!

Saamwaak = Saamstap!

Christo

OORDENKING: MAANDAG 9 AUGUSTUS 2021
Kol 4: 2 - 6

Sedert Covid almal van ons se lewens kom omkeer het, het ek dikwels gewonder hoe ons al die aanpassings gaan oorleef, en of ons anders oor baie dinge gaan dink. ‘n Paar Sondae gelede het my kleinseun my gedagtes oor die Bybelse opdrag tot waaksaamheid nogal verander. Hy is predikant in Wellington waar ek grootgeword het, en preek in dieselfde kerk waar ek gekatkiseer is saam met my boesemvriend Breyten Breytenbach en my matriekmeisie Adrienne, wat later my vrou geword het.

Maar kleinseun Lourens Bester preek totaal anders as die lang, onverstaanbare preke wat ons destyds moes verduur. Sy teks was Kolossense 4: 2 : “Volhard in gebed. Wees waaksaam en dankbaar as julle bid”. In my kinderdae sou die ou dominee die woord waaksaam omslagtig uitgelê het as ons roeping om gedurig te koes vir sonde en versoekings tot Jesus weer kom. Maar hierdie jong dominee reken teen die tyd is ons almal al moeg vir die gedurige aanmaning oor covid: Be alert! Oppas! Wees waaksaam! Wees versigtig! Dra jou masker!! Hy sê: onthou liewer in ons covidtye om altyd wakker te wees, en dankbaar, en om baie te bid.

Waaksaam beteken ons moet wakker wees om geleenthede raak te sien. Wakker en skerp genoeg as christene om te bid dat die dominees die Woord reg moet oopmaak in nuwe tye (vers 3). En veral bid dat die een wat preek dit duidelik sal verkondig.

Waaksaam beteken nie dat jy moet koes vir jou medemens oor moontlike versoekings nie, maar dat jy met wysheid sal optree, veral teenoor nie-christene, en die beste gebruik sal maak van elke geleentheid op jou pad (vers 5). Kies jou tyd en geleenthede reg.

Waaksaam beteken jou woorde moet van goeie smaak getuig, met sout besprenkel. Sout was in Paulus se tyd die beste reinigingsmiddel as iets bewaar moes word. Ons woorde moet dus die regte betekenis hê, positief wees, opbouend, en nie mense neerslagtig maak nie! (vers 6). Waaksaam maak jou ook wakker genoeg om te sien wie bemoediging nodig het (vers 7-8).

Paulus en ek vra vandag drie dinge van jou:
1. Bid baie en duidelik vir ons predikante wat preek. Ek het laasjaar toe ek 80 word, besef ek wil nie meer preek nie, die verantwoordelikheid is te groot vir ‘n oom wat soms name en goeters vergeet! Vertel en bemoedig jou dominee as hy jou raak gepreek het, en vertel hom soms ook as jy voel hy het jou mis gepreek.
2. Doen elke dag iets vir jou land, jou medemens, en praat positief oor Jesus en Sy Koninkryk. Passiwiteit en pessimisme is bedmaats, en dra by tot moedelose swartgallighied, sê Wilhelm Jordaan in Die Burger.
3. En spesiaal uit Kolossense vir Vrouedag vandag: Kol 3: 19: “Mans, julle moet julle vrouens liefhê, moenie die lewe vir hulle bitter maak nie”.

Wees vandag waaksaam!
Christo Alheit

Oorddenking: Donderdag 5 Augustus 2021

Amandels (Jeremia 1v4-12)

Vincent van Gogh (1853-1890) is in Nederland gebore. Sy pa was ʼn predikant. Hy wou ook ʼn predikant word, maar hy het sy toelatings-eksamens tot die Kweekskool gedruip. Hy het daarna voltyds gaan skilder. Hy was brand arm. Hy was wroegend depressief. Hy is opgeneem in ʼn Inrigting. En hy neem sy eie lewe.

Van Gogh het ʼn broer - Theo - gehad wat hom in hierdie donker tye finansiële ondersteun het. Toe Theo se baba seuntjie gebore is, het Theo die seuntjie na sy broer Vincent vernoem – Vincent Willem van Gogh. Uit dankbaarheid skilder van Gogh vir die baba sy baie bekende en waarskynlik mees persoonlike skildery –
ʼn takkie amandelbloeisels. Vir hom die simbool van hoop op ʼn nuwe en geseënde lewe in die son.

Kom ek plaas jou nou in ʼn predikant se skoene:
Jy is jonk (20jr). Die Here roep jou as predikant na die groot Moederkerk in Jerusalem. Dit klink opwindend! Nee, dit is nie, want jou beroepsbrief spel jou opdrag in 4 woorde uit: Jy moet gaan afbreek, uitroei, vernietig en platslaan. Eers daarna kan hy bou en vestig (1v10). Wat sal jy as die jong dominee doen?

Jeremia antwoord met al die verskonings om nie te gaan nie. Hy sê hy is nog te jonk en (om eerlik te wees) hy is ook te bang. Hy kan nie! Hy gaan nie!

Die Here antwoord hom met ʼn amandeltak (1v11).

Wat sê die amandelbloeisels?

Amandelbloeisels bring hoop. Die amandelboom is die eerste boom om bloeisels te dra. Die termometer sê vir ons dit is nog winter! Maar God se amandelbloeisels sê: Daar is hoop. Die somer kom!

Hoop?

Wat is hoop nie?

• Nee, hoop is nie ʼn persoonlike verwagting nie. Die goeie Job het gehoop en verwag dit sou beter gaan, want hy was tog so ʼn goeie man. Dit het nie (Job 30v16 & 26). Aan die einde van sy lewe het God hom ryklik geseën. Job was nooit ʼn hopelose karakter nie.

• Nee, Jerusalem het dit ook nie gemaak nie. In die jaar 586vC is die stad afgebreek, uitgeroei, vernietig, plat geslaan. (Maar 70 jaar later kon die Jode terugkeer na hul land. Jerusalem was nog nooit ʼn hopelose stad of gemeente nie).

Wat is hoop?
• Hoop is om aan Jesus vas te hou. As jy die dag deur donker dieptes en doodskaduwees moet gaan, sal jy geen onheil vrees nie, want die Goeie Herder is by jou (Ps. 23).

• Hoop is Jesus as ʼn veilige en onbeweeglike anker om aan vas te hou. Die storms sal woed, maar daar is ʼn anker (Hbr. 6v19).

• Hoop is om soos die Emmausgangers ná die son te loop. Dan lê jou skaduwees agter jou (Luk. 24v21 & 29).

• Hoop lewe in die woorde van ʼn Poolse dogtertjie wat tydens die tweede Wêreldoorlog op die muur van die Joodse ghetto in Warschau geskryf het:
“Ek glo in die son – al skyn dit vandag nie. Ek glo in die liefde – al sien ek dit nie. Ek glo in God – al kan ek Hom nie hoor nie”.

• Geloof sê God kan. Hoop sê God sal. Liefde sê God wil.

Geseënd is jy wie die eerste amandelbloeisels kan sien.

Groete van Heys tot Huis
Clifford

Oordenking:
Woensdag, 4 Augustus 2021

Jesus se Granaat
Num 13v23-25

Op ons kuspaadjie lees ek op een van die teëltjies Ingrid Jonker se woorde:
“Jou lag is soos ʼn oopgebreekte granaat. Lag weer”.

Wanneer het jy laas ʼn granaat geëet? En wanneer het jy laas ʼn granaat gaan koop? Gaan kyk wat kos ʼn botteltjie vars granaatsap in die winkel en jy sit dit bottel net so terug. Die granaat is ʼn duur vrug om te koop, en tog bly dit ʼn baie gesogte vrug.

In 1487 het die Italiaanse skilder Sandro Botticelli sy beroemde skildery geskilder: ‘Madonna of the Pomegranateis’. Die Moeder Maria staan met die Jesus kind in haar arms. In haar hand hou sy ook ʼn granaat vas na aan Jesus se hart.

Wat sê Botticelli vir ons?

Jou raai is so goed as myne. Ek waag myne:
Ek dink die granaat simboliseer die kerk. Soos die granaat na aan Jesus se hart is, so is die kerk ook na aan Jesus se hart.

Hoekom lê die kerk – soos die granaat – na aan Jesus se hart?
• Omdat die kerk Sy familie is. Omdat ons ook familie is. God is ons Vader. Jesus is ons oudste broer. En ons is vir mekaar ʼn broer en ʼn suster. Ons is familie.

Wat breek Jesus se hart...?
• Dit breek Jesus se hart as God binne die kerk soek raak. Dit breek Jesus se hart as God Sondae binne die kerk afwesig is. God stap uit die kerk uit wanneer die deure oopgemaak word vir kerkism, dwepery, verdagmakery en tweespalt. En dit breek Jesus se hart.

Wat maak Jesus se hart bly...?
• As die verlore skaap gevind word. As die verlore muntstuk gevind word. As die verlore seun huis toe kom (Luk 15)
• As die kerk soos die barmhartige Samaritaan, raaksien wat die priester en Leviet nie raakgesien het nie
• As ons (ek en jy) ons God se familie nie in die skande steek nie
• As ons opstaan en veg vir die waarheid, maar nie met stokke en spiese nie, maar met gebede en trane
• As ons protesteer teen die besoedeling en ontheiliging van God se handewerk in die skepping en as ons die moue oprol om weer op te bou

Ek kyk weer na Botticelli se skildery met Jesus en Sy granaat in Maria se arms.
En ek weet – sonder die kerk sou Jesus lank reeds vergete gewees het.

Geseënd is jy met ʼn granaat in die hand.

Seëninge van Heys tot Huis

CLIFFORD

Oordenking: Dinsdag 3 Augustus 2021

‘n Akker of ‘n Boom?
1 Kor. 15v35-38

Moet nooit ons ou dominees nooi om te kom preek nie. Die bekende dr Norman Vincent Peale was al bejaard toe sy ou gemeente hom nooi vir ‘n preekbeurt.
Sy eerste woorde was:
“Today I am going to preach a sermon on a topic I know more about than anyone here tonight”.
En dan kondig hy sy tema aan:
“Get Ready to Die!”

ʼn Paar jaar gelede het ʼn goeie vriend verongeluk. Na die diens op pad na die begraafplaas, tel ek ʼn akker op onder die akkerbome. By die graf wou ek vir die 3 kinders ook iets van die dood probeer verduidelik. Ek haal die akker uit my sak en vra vir hulle:
“Wat is hier in my hand ...?”
Stilte.

Ek vra weer. En die een wat sy pa se skerp brein geërf het antwoord:
“ʼn Akker”
“Ja, dit is ʼn akker. En dit is ʼn feit”, sê ek.

“Maar wat sien julle nog in my hand ...?” vra ek.
Stilte.

Die dogter sien steeds die akker in my hand, maar sy waag dit om te antwoord:
“ʼn Boom?”
“Ja”, sê ek “dit is ʼn boom. En dit is die waarheid”

Die akker in my hand was die feit en die akkerboom die waarheid.

Ek het hierdie akker-preek by Paulus geleen (1 Kor. 15v35-38). Toe Paulus skryf van die lewe na die dood, het hy ʼn koringsaad in sy hand gehad.

Vir Paulus was die koringsaad die ‘feit’. Die nuwe koringplantjie die ‘waarheid’.

Paulus vra dat ons nuut moet kyk na die dood. Moenie in die ‘feit’ vaskyk nie. Sien die ‘waarheid’. Daarom sê Paulus ons dood-gaan is soos môre-oggend se wakker word. Jesus was die eersteling. Die man aan die kruis dalk die tweede. Ons sal wie-weet die hoeveelste wees. Maar ons sal ook eendag soos Jesus nie ‘sterf’ nie, maar ‘ontslaap’ (1 Tess. 4v14).

John Donne (1573-1631) skryf ......:
“God employs several translations:
Some pieces are translated by age
Some by sickness
Some by war
Some by justice
But God’s hand is in every translation”.

Met ander woorde: Jou lewe word eendag in ʼn hemelse vertaling oorgeklank.

Geseënd is jy met die akker in jou sak.

Groete van Heys tot Huis
Clifford

Oordenking: Maandag 2 Augustus
Die Appel van My Oog

Wanneer het iemand laas vir jou gesê: "Jy is die appel van my oog..?

In 1966 skryf Shel Silverstein 'n boek met die titel "The Giving Tree". Dit is die verhaal van 'n appelboom en 'n seuntjie. Hulle is beste maats. As die seuntjie buite gaan speel, gee die boom sy skaduwee. As die seuntjie boom wil klim, gee die boom sy takke. As die seuntjie wil swaai, gee die boom 'n sterk tak vir die toue. As die seuntjie honger word, gee die boom appels. En as die seuntjie groei en groot word en hy raak verlief, gee die boom sy stam. En die seun kan nou 'n hartjie daarop uitkerf met hulle voorletters daarin.

Maar die seuntjie word 'n groot man en hy gaan weg na 'n ander land. Die appelboom staan eensaam en alleen. Jare later kom die seuntjie as 'n ou man terug. Hy is ook alleen. Hy soek en hy vind sy appelboom. Hy gaan sit stadig en steunend onder die appelboom. Sy oë val toe. So sluit hy sy lewe af styf teen die stam van "The Giving Tree".

Dit is die verhaal van "die appel van my oog..!

Vir 40 jaar het God Sy volk van Egipte tot by die Beloofde Land gelei. Hulle is nou daar. En Moses sing 'n danklied. Moses dank God wat hulle soos "die appel van sy oog" versorg het (Deut 32:10-11)

As die Joodse volk uit ballingskap teruggekeer en hulle herbou die tempel, is daar probleme en uitdagings. Dan maak God sys tem dik en God waarsku. "Wie aan julle vat, vat aan my oogappel"(Sag2:8)

Ps 17 is 'n nag-gebed. Dawid het 'n slapelose nag. Hy verkeer onder groot druk. Waarvoor bid hy in die nag? "Beskerm my soos die appel van u oog" (17:8)

Jy is ook God se oogappel. Hoe anders? Daar is 'n losprys vir jou bevryding van sonde en dood betaal. Jesus het met Sy lewe vir jou betaal. Jy is gekoop en betaal. (1 Kor 6: 20) Jy is ook die Here se oogappl!

Geseënd is jy vir wie God sê: "Jy is die appel van my oog..?

Groete van Heys tot Huis,
Clifford

Oordenking: Donderdag, 29 Julie 2021
Prediker 9:7-10

Ons het die afgelope dae baie nagedink oor die dood. Vandag wil ons praat oor die lewe! Ons moet rekening hou daarmee dat die vreugdes van die lewe nie vanself kom nie. Ons moet lewe bring en die lewe vier. Die belangrike waarheid wat ons moet verstaan is dat ons self ‘n groot aandeel het in hoe ons die lewe ervaar. Ongelukkige mense trek ongeluk aan. Vrolikheid is aansteeklik.

Jou ingesteldheid teenoor die lewe bepaal hoe jy mense gaan ervaar, hoe hulle jou beleef en wat in die verhouding gaan gebeur. As jy ‘n onbedreigde, positiewe lewensinstelling het, sal jy ander mense ook so beleef. Jy sal die goeie bedoelings in hulle woorde raaksien en daarop voortbou. So ontstaan ‘n warm en aangename atmosfeer tussen julle. Dit bring mense nader aan mekaar.

Indien jy in jouself ongelukkig is en agterdogtig is oor ander se motiewe, sal jy julle gesprekke negatief beleef. Jy sal voel dat die ander verskuilde motiewe het en later negatief daaroor praat. Hierdie gesindheid kring uit tot agterdog en skinderpraatjies. Jy kan nooit opreg wees nie, want jy wantrou gewoonlik die ander persoon se bedoelings. Hulle kan nie opreg wees nie, dink jy! Die hartseer is dat die probleem in jouself lê. Bedreigde mense kan nie liefhê nie.

Dit is maklik om jou eie posisie te toets. Wat is die aard van jou gesprekke wanneer iemand anders vertrek? Is jy krities en sinies oor wat die persoon met jou gedeel het? Verlustig jy jou in hulle hartseer of probleme en vertel dit met smaak aan ander vriende? Laat die feit dat jy met ander oor vriende se probleme praat jou beter voel oor jouself?

Dit is deel van ons menswees om ons eie gevoel van minderwaardigheid op te bou deur ons in ander se swakhede te verlustig. Jy kan net positief oor ander praat as jy positief voel oor jouself. Jy kan ander net onvoorwaardelik liefhê en respekteer as jy gemaklik is in jou eie vel. Anders sal jy dit nodig vind om op hulle swakhede te fokus.

Ons nood is dat ons dit dikwels nie in onsself raaksien nie. Ons kom nie agter dat ons nie lojale vriende is nie. Die uitdaging is dat ons by die punt kom waar ons positief oor ander kan dink en praat. Anders het jy nodig om oor hulle te skinder sodat jy beter oor jouself kan voel. Hoe kom ons daaroor? Deur eerstens jou eie gesprekke te evalueer en raak te sien hoe dikwels jy negatief is oor ander. Vra selfs ‘n vriend of lewensmaat om jou hiermee te help. Begin om daarop te fokus om net positiewe dinge oor ander te sê. Vra die Here om jou ook hiermee te help. Hy sal jou sensitief maak vir ‘n kritiese gees in jou gemoed.

Die volgende stap is om eerlik oor jou eie gevoel oor jouself na te dink. Is ek minderwaardig of kan ek waardering hê vir my gawes? Dink ek negatief oor my vermoëns en agtergrond of is ek ‘n mens in eie reg? Watter skuldgevoelens of ervarings van mislukking het ek nog nooit in die oë gekyk nie? Watter negatiewe ervarings met my ouers of onderwysers het ek nog nooit verwoord en nugter ontleed nie? Hierdie emosies kan my oor jare heen lamlê in my groei na volwassenheid.

Ons hoef nie so te lewe nie. Daar is hulp beskikbaar. God gun ons ‘n onbevange en gelukkige lewe. In Sy oë is jy spesiaal en kan jy floreer. Ons het ‘n keuse. Gaan ek voort met minderwaardigheid en onvergenoegdheid, of gaan ek my denke verander na dankbaarheid en onvoorwaardelike liefde. Dit is nooit te laat om te begin nie. Hulp is beskikbaar. Jy kan floreer!

Lees weer Prediker 9:7-10. Lewensvreugde is dikwels ‘n kopskuif. Dit is wat ons Vader ons gun. Dit is nooit te laat nie!

Carpe Diem.

Joy to the World

Wilhelm

Oordenking: Woensdag 28 Julie 2021
Lukas 12:22-31

Ons het vanaf Maandag gepraat oor die realiteit van ons sterflikheid. Vandag dink ons na oor watter perspektief Jesus vir ons gee oor die lewe in die lig van ons sterflikheid. In Lukas 12 wys Jesus daarop dat ons op die regte dinge moet fokus as ons die beste uit die lewe wil haal. In vers 15 waarsku Hy teen gierigheid, want dit bring nie blywende vreugde nie. “’n Mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”

Die eerste belangrike waarheid wat ons moet verstaan, is dat ons minder moet jaag na wat ons wil besit, en meer oplettend moet wees oor wat God reeds gee. Dis ‘n kopskuif en die basis van dankbaarheid. Dit bring die skuif van hebsug na vergenoegdheid. Dis die geheim van vrede. Ongelukkig werk die materialistiese samelewing nie met hierdie beginsel nie. Dit is ons christene se stryd, ons fokus skuif gedurig tussen hierdie twee pole: Meer is beter of is minder beter?

Van kleins af is ek lief vir motors. Ek kon tot vandag toe nie hierdie versoeking afskud nie. Ek bewonder mense wat vir jare met dieselfde motor kan ry en steeds gelukkig lyk! Ander mense is weer lief vir mooi binneversiering en meubels. Die vertrekke lyk kort-kort anders en nuut oorgedoen. Sommige is lief vir mooi klere en kan nie genoeg in die winkels ronddwaal nie. Daar is mense wat versot is op reis en elke geleentheid aangryp om na ‘n nuwe bestemming te vertrek.

Hoe sal ons ekonomie groei as ons nie lief is vir koop nie? Selfs die mense wat op die broodlyn lewe is afhanklik van die welvaart in ons ekonomie. Ons moet koop en vervaardig en bemark om die samelewing te dien.

Wat bedoel Jesus as Hy in vers 22 sê: ”Moet julle nie bekommer oor wat julle moet eet of aantrek nie?” Hy gee drie redes waarom Hy dit sê:

1. Besorgdheid is dit nie werd nie (:23) Die lewe is belangriker as wat ek besit. Menswees gaan oor meer as die uiterlike besittings. Daar moet iets binne-in my gebeur waaraan my sekuriteit hang.

2. Besorgdheid is tevergeefs (:25) “Wie kan sy lewe met een uur verleng?” Trouens, kommer verkort jou lewe!

3. Besorgdheid is onnodig (:24) Het jy al ooit ‘n lelie sien huil? Het kraaie kommerplooie? Julle moenie besorg wees nie, julle het ‘n Vader wat weet wat julle nodig het.

Dit is dus dwaas as ons ons diepste troos en vreugde soek in dit wat ons besit. Dit is om ons gesig weg te draai van ons Vader af. Die gevaarlikste is dat ons begin dink dat blywende vreugde lê in dit wat ons rondom ons het. Jesus verstaan ons begeertes, maar Hy nooi ons om ons diepste sekuriteit en vrede te vind in ons verhouding met ons Vader. Dan kry al die ander dinge hulle plek en kan ons dit geniet. Mooi dinge is nie sleg nie, ons moet net perspektief behou. (Dankie tog!)

Dit lyk my dit raak gevaarlik as my besittings my besit, as my vrede en toekoms daarop alleen gebou is. Die lewe is meer as dit wat ek versamel. Hierdie vrede is iets wat aan ons geskenk moet word. Besorgdheid wyk eers as jy jou kragte gee vir ‘n saak wat groter is as jyself.

Soek Allereers Die Koningkryk Van God

Ons bid vir mekaar…
Wilhelm

Oordenking Dinsdag 27 Julie 2021
Prediker 11: 7-10

Oom Sid en tannie Ems Viljoen het in Golden Harvest gewoon. Ek het gereeld by hulle ingeloer. Hulle het dit altyd opreg waardeer en ek is met liefde ontvang. Tannie Ems is die naweek oorlede. In haar kas is ‘n briefie gekry wat op 23 Januarie 2009 in haar eie handskrif geskryf is. Dit was pas na sy met Parkinson se siekte gediagnoseer is. Haar boodskap is gebaseer op Pred.11:7-10. Ons het dit gister by die klein byeenkoms saam met oom Sid en die kinders gelees. Met hulle toestemming haal ek graag die volgende gedagtes daaruit aan.

Prediker 11:7-10 “Die lig is aangenaam, dit is goed vir die oë om die son te sien. As 'n mens lank lewe, moet jy oor alles dankbaar wees. Maar jy moet onthou dat die donker dae van die dood wat kom, ook baie is. Alles kom tot niks. Jy wat jonk is, moet vreugde vind in jou jeug en jou jong dae ten volle geniet. Doen wat jy goedvind en waarvan jy hou, maar moenie vergeet dat God van jou rekenskap sal eis oor alles nie. Hou kommer uit jou hart en vermy wat jou liggaam kan kwaad doen. Ook die jeug en die jonkheid kom tot niks.”

Briefie geskryf deur tannie Ems Viljoen op 23 Januarie 2009.

“Die ouderdom is onvermydelik. Dit gaan gepaard met kwale en gebreke, somberheid en eensaamheid. Die oë word dof, die ore word soos deure gesluit en die arms en bene verloor hulle krag. Dit is die tyd van slapeloosheid, moeite en verdriet. Die tyd van grysheid waar die mens homself met moeite voortsleep. Die fut is uit, sy tyd verby, hy gaan na sy ewige woning of graf. Die silwerdraad van die lewe word geknip en die brose kruik gebreek. Die stof keer terug na die aarde toe en word met verloop van tyd in die kringloop van die lewe opgeneem. Die asem keer terug na God wat dit gegee het, en so kom alles tot ‘n einde, en alles is weer niks. Onder die toorn van God skiet ons jare verby soos ‘n gedagte, selfs al is dit sewentig of tagtig jaar, dit is gou verby en ons vlieg na ons einde toe. Alle mense is soos gras, alles waarop hulle staatmaak is soos ‘n veldblom. Die gras verdor en die blomme verwelk as die Here die wind daaroor laat waai. En daar is niemand oor wie die Here se wind nie waai nie. Geniet jou lewe. Dink egter aan jou Skepper, en doen die wil van die Here en jy sal ewig lewe. Die dood is nie die einde nie. Jesus het die dood oorwin, wie in Hom glo sal lewe al het hy ook gesterwe.”

Tannie Ems het in die woorde vrede gevind. Sy het ‘n sagte vriendelikheid uitgestraal van iemand wat hierdie Skrifwoorde haar eie gemaak het. Dit bevestig dat ons eers werklik begin lewe as ons vrede gemaak het met ons sterflikheid. Jesus het dit bevestig toe Hy gesê het: “Moenie julle kwel oor julle lewe, oor wat julle sal eet of drink nie. Julle Vader weet wat julle nodig het. Hy sorg vir julle…” Matt.6:25-34
Vrede kom van binne. Vergenoegdheid gee betekenis aan ons besittings, nie andersom nie. Dit maak ‘n mens gelukkiger om te gee as om te ontvang.
Hoe gouer ons hieroor vrede kry, hoe gouer begin ons met dankbaarheid lewe.

https://youtu.be/e-6V346og4Q

Wilhelm

NS. Ons sal weer Woensdag aand om 18h ‘n stildiens in die kapel kan hou. Almal welkom!

Oordenking Maandag, 26 Julie 2021
Skrif: Prediker 11:7-8

Die Prediker is ‘n boek wat nadink oor die lewe…en oor die dood. Hy soek ook antwoorde op ons diepste lewensvrae. In Hfs 11:7 begin hy met hierdie wysheid: “Die lig is aangenaam, dit is goed vir die oë om die son te sien.” Som dit nie die lewe mooi op nie? Die lewe is ‘n voordurende spel tussen lig en donkerte. Hierdie vers bevestig ‘n diep lewenswaarheid. Dit is goed vir die oë om die son te sien. Dit herinner ons om doelbewus op te kyk na die son.

Vers 8 skets ‘n bietjie meer somber prentjie: “As 'n mens lank lewe, moet jy oor alles dankbaar wees. Maar jy moet onthou dat die donker dae van die dood wat kom, ook baie is. Alles kom tot niks.“ Hierdie vers beteken dat ‘n mens ‘n keuse het hoe jy na die lewe kyk. Jy kan vergeet om die son raak te sien en net fokus op waarmee jy besig is. Jy verdiep jou in die koerant en al die nuus, staar moedeloos na die televisie, luister na al die somber stories oor die radio en raak verdiep in die boodskappe op jou selfoon. Jy raak betrokke by daaglikse gesprekke oor hoe sleg dit gaan en hoe korrup alles om ons is. En jy vergeet hoe goed dit is vir die oë om die son te sien.

Ons kan meer fokus op die lig. Die lig is aangenaam, daarom doen dit jou hele liggaam en gees goed om in die lig te wees. Dit is wel so dat die son nie elke dag helder skyn nie. Ons kry bewolkte dae en mistroostige weer. Daaroor het ons nie beheer nie. Ons het tog ‘n keuse om op sonskyndae na buite te stap en die warm strale van die son te geniet. Dit verdryf die donker gedagtes en bring perspektief. Die son bring warmte en lewe. En waar daar lewe is, is daar hoop.

In die Nuwe Testament kom die blye aankondiging: “Die lig skyn in die duisternis, en die duisternis kan dit nie uitdoof nie.” Hierdie gebeure gee perspektief aan die Ou Testamentiese verwagting. Na Kersfees weet ons hóé welkom die Lig is. Ons mag nou daarop fokus. Ons is nie slagoffers nie. Die lig word ook deur ons weerkaats, mits ons ons gesig na die Son toe draai.

Ons móét eenvoudig weer na die volgende lied luister!

U is die lig wat deur die donker skyn

Wees Lig!
Wilhelm

Oordenking
Don 22 Julie 2021
Psalm 90:1-6 en 16-17

Ons eindigheid as mense is nie ‘n saak waaroor ons baie dink nie. Van vroeg af word ons gedryf deur ideale en drome. Ons word aangemoedig om die lewe aan te gryp en die beste daarvan te maak. Elke mense vul natuurlik die betekenis van lewe met hulle eie inhoud. Anders maak die lewe geen sin nie. Jy moet ‘n doel hê, jy moet iets vind om voor te lewe.

Reeds in 1946 skryf die Switserse psigiater, Victor Frankl, in sy boek, “Man’s search for meaning,” dat elke mens iets moet vind wat betekenis gee aan sy lewe. “He who has a why to live for, can bear almost any how.” Elkeen van ons kan getuig wat ons in ons lewe motiveer. Dit kan ‘n lewensroeping wees, versorging van jou kinders, dienswerk of ‘n gevoel van verantwoordelikheid vir iets wat vir jou blywende betekenis het. Dit laat jou geliefd en gewaardeer voel.

Daarom is aftrede nie altyd ‘n maklike oorgang nie. Jy moet iets vind wat dit vir jou die moeite werd maak om elke oggend op te staan. As jy dit verloor, verloor die lewe sy kleur.

Daar is gebeure in die lewe wat ons weer kom herinner dat ons nie vir altyd hier sal wees nie. Dit is ‘n waarheid wat ons moet verwerk. Daarom is die Covid pandemie ‘n lastige herinnering aan ons broosheid. Ons word gedwing om weer na te dink oor die voorreg van lewe en die werklikheid van ons eindigheid. Dit is nie altyd ‘n lekker proses nie. Onbewus bring dit ‘n somberheid in ons gemoed. Ons wil lewe en beweeg!

Die digter-dominee Isak de Villiers het hierdie gevoel met deernis verwoord in ‘n gedig wat hy lank terug geskryf het. Dit som ons eie behoefte aan die lewe goed op.

By ‘n sterwende kindjie

"Eddie, kan jy my hoor?
Dis ek, oom Dominee.
Jy moenie bang wees nie,
die Here Jesus sal jou self kom haal,
jou handjie vat.
Jy is mos lief vir Hom.
Weet jy, die stad waar Hy woon
is so mooi, met pêrelpoorte
en fonteine. Sagaria, die profeet, sê
oral op die pleine en die strate
speel die kindertjies.
Moet ek dit vir jou lees?
Jy wou iets sê?
Wag, ek kom nader –
kon nie mooi verstaan nie.
Jy wil nie gaan nie… "

Ek sien 'n nuwe hemel kom

Carpe Diem!
Wilhelm

Oordenking:
Woensdag, 21 Julie 2021 1 Kor. 15:53-55

Dit is seker nie vir alle mense dieselfde nie, maar ek wonder hoeveel mense dink gereeld oor die dood?

My vermoede is dat die meeste van ons nie graag daaroor dink nie, tensy dit regtig nodig word! Ons verkies om te droom oor die lewe, oor wat ons nog wil doen en waarheen ons nog wil reis. Onbewus glo ons dat ons altyd sal lewe en kan doen wat ons graag wil doen. Wie word nou oud?

Daarom is daar dikwels groot emosionele trauma as ons hoor dat ons dood naby is. As die dokter vir jou sê jy het terminale kanker, vra dit ‘n hele proses met verskillende fases om hierdie nuus te verwerk. Daar is ook mense wat nie voorsiening maak vir hulle naasbestaandes as hulle die dag nie meer daar is nie. Miskien dink hulle dat die dag nooit sal aanbreek nie. Waarom nou daarvoor spaar?

Vroeër jare het mense afgesonderd op die plase gewoon. Toe is geliefdes tot op die laaste in die huis versorg en op die plaas begrawe. Vandag sterf mense in hospitale tussen wit lakens en vreemde masjiene. Ons sterflikheid is op die agtergrond geskuif. Die lewe bied so baie!

Met die koms van die Covid pandemie het dinge verander. Ons is baie meer bewus van ons sterflikheid en hoor daagliks van nog mense wat gesterf het. Ons leer om met statistieke saam te leef. Op ‘n manier moet ons dit verwerk dat lewe nie so vanselfsprekend is as wat ons gedink het nie. Al hierdie emosies lê op ‘n onbewuste vlak, maar bepaal tog ons gedagtes en gemoed.
Ons sal enigiets doen om gesond te bly. Ons wil lewe! Daarom drink ons enige pil wat voorkom net om seker te maak ons staan ‘n beter kans teen die sluipende gevaar om ons. Almal soek die wondermiddel.

Die Bybel praat ook oor die dood. Paulus skryf dat ons as gelowiges nie die dood hoef te vrees nie. Die verskil is Christus. Hy het die angel uit die dood gehaal toe Hy opgestaan het. As oorwinnaar belowe Hy ons dat ons ook eendag weer sal opstaan. Ons besit die ewige lewe!

In hierdie vreemde tyd moet ons dalk weer hierdie beloftes ernstig neem en daaroor nadink. Watter waarde het dit regtig vir my dat ek die ewige lewe reeds ontvang het? Dit bewaar my dalk nie teen Covid nie, maar dit plaas lewe in ‘n ander perspektief. Die kerkvaders noem dit selfs ons enigste troos….

“Wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal. Dood, waar is jou oorwinning? Dood, waar is jou angel?”

Dit is asof ons nou meer as tevore oor hierdie teks wil nadink.

Oorwinningslied

Mooi dag!
Wilhelm

Oordenking: Dins, 20 Julie 2021
Teks: 1 Kor.3:9-22

In die eerste verse van Hfs 3 is Paulus steeds besig om die onderlinge konflik in die gemeentetjie van Korinthe aan te spreek. Ons het reeds daaroor gepraat. Ons fokus dus nou op die volgende gedeelte vanaf vers 9.

Hy vergelyk die gemeente met ‘n gebou. Hy het in die begin vir die mense in Korinthe vertel van Jesus. Hulle het tot geloof gekom en so het die eerste gemeente daar ontstaan. Die fondament is op Christus gelê en nou kan ander leraars daarop bou. Ongelukkig het die mense groepe begin vorm en elkeen het sy gunsteling leraar gehad. Paulus, Apollos en Sefas is teen mekaar afgespeel.

In die gesprekke wat volg sê Paulus ‘n interessante ding. Mense wat deel is van die kerk is bevoorregte mense. Daar is dinge van ons waar wat ons nie altyd so duidelik besef nie. Bv. Paulus noem ons die gebou van God. Wie woon in die gebou? Die Gees van God woon daar (vers 16) Dit is tog iets baie besonders!

As ons dus bymekaarkom om te aanbid, hou ons nie kerk nie, ons IS kerk! Ons bou nie ‘n lekker gees nie, die Gees bou ons! Ons skakel nie die ligte aan nie, ons is die lig. Daarom, wees Lig! Ons preek nie vir mekaar nie, die Gees breek die Woord in ons midde en voed ons met die brood van die Lewe. Ons sing nie net lekker saam nie, ons gaan in aanbidding voor die God van ons lewe aan wie al die lof toekom. Ons hou nie net lekker kerk nie, ons word toegerus om dissipels te wees en ander te dien waar ons ookal beweeg. Die kerk kom nie uit nie, die gemeente word uitgestuur om lig in die gemeenskap te wees en om te dien waar die nood is. Ons tel nie net agterna die geld nie, ons deel die brood aan almal wat honger en dors is.

Daarom begin ons die samekomste met die verklaring: Ons byeenkoms is in die naam van die Vader en die Seun en die HG. Later gaan ons huistoe met die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees. Ons wens nie mekaar net ‘n lekker braai toe nie, maar dat die Gees ons so sal toerus dat tonge van vuur op ons koppe sigbaar sal wees.

Die inperkings bring mee dat ons die sigbare ervaring van kerkwees mis. Dit kan ‘n eensame gevoel wees om op ‘n Sondagoggend alleen in jou huis na die preekopname te kyk. Dit sal help as ons onthou dat ons in die Gees ingeskakel word by ‘n groter familie. Ons behoort êrens.

Hierdie beloftes van wat God besig is om te doen, skuif uiteindelik die fokus bietjie weg van my verwagtinge en wat die kerk of prediker vir my kan bied. Die verwagting van ‘n inrykafee word die ervaring van ‘n familiebyeenkoms. Die bestelling deur die venster word die samesyn rondom die nagmaalstafel. Die wegstuur van kinders na die pretpark daar ver word die inoefening van die geloofslewe in die hart van die gemeente. Verbeel ek my of sien ek Jesus saam ry met die Rooi Trein? Gees-driftige passasiers, kinders van die Vader.

Ja, ons is inderdaad ‘n vreemde gemeenskap. Ja, ons mis ons samekomste geweldig. Ons bid dat dit eendag weer vir ons beskore sal wees. En ons weet dat ons dan met ander oë na kerkgang sal kyk. Dit sal nooit weer dieselfde wees nie…

https://youtu.be/VU1txT1e6yc

Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees, sal met julle wees. Amen.

Wilhelm

Oordenking: Maandag, 19 Julie 2021
Teks: 1 Kor.2:6-16

Ons samelewing word gedryf deur menslike behoeftes. Dit was nog altyd so dat
menslike behoeftes die gelaat van die wêreld bepaal het. Dink maar hoe die
behoefte aan mag groot oorloë laat vlamvat het, hoe die behoefte aan welvaart elke
ekonomie dryf, hoe die behoefte aan vermaak die ganse wêreld voor die TV
vasgenael hou en sportstadions vul, hoe die behoefte aan skoonheid die
modewêreld en winkelsentrums laat floreer.

Die vraag is dan, wat is jou diepste behoefte as mens? Wat gee sin aan jou lewe?
Dink bietjie daaroor na. Dit is ‘n kuns om tot stilstand te kom om hierdie behoefte
onder woorde te bring. Dit beteken dat ek antwoorde soek op ernstige lewensvrae
soos: Wat maak die lewe vir my betekenisvol? Wat bring vreugde? Wat gee hoop?
Hoekom is ek hier?

Paulus skryf in ons teks hieroor en sê dat hy ‘n antwoord op die vraag het. Hy noem
dit ‘n verborge waarheid, wat God as’t ware weggesteek het om later vir ‘n wêreld
sonder hoop bekend te maak. God spreek ‘n dieper menslike behoefte aan wat ons
nie altyd onder woorde bring nie. Die nood van ons mense is dat ons self nie altyd
bewus is van waarna ons ten diepste hunker nie. Kan ons waag om die antwoord
soos volg te formuleer? Ons almal smag na troos en lewenssin! Alles wat ons
doen en waarna ons strewe moet tog uiteindelik betekenisvol wees. Ons het immers
net een kans in een lewe om dit die moeite werd te maak om hier te wees!
As die antwoord wat Paulus hier verwoord destyds nie te gewild was nie, is dit
vandag nog erger! Die hele denk-en waardesisteem van die wêreld maak nie
voorsiening vir die boodskap van die evangelie nie. Mense soek elders na betekenis.
Die wêreldekonomie is gebou op verbruik, nuwe behoeftes, vermaak en mag.
Heimlik glo ons mense dat dit ons diepste behoeftes sal bevredig.

Die mense in Paulus se tyd het die antwoord wat Christus vir die nood van die
wêreld kom bring het, ook nie verstaan nie. Daarom het hulle Hom laat kruisig.
Vandag sou hulle Hom waarskynlik net geïgnoreer het. Ons sien dit in die leefstyl
van baie welvarende en suksesvolle jongmense. Die wêreld is hulle woning. Hulle
leef vinnig en met die nuutste tegnologie. Hulle het niks teen die kerk of godsdiens
nie, hulle het dit net nie nodig nie. Die hoop lê elders…

Tog glo ons dat die evangelie die antwoord bied op ons lewensvrae. Die wonder van
die betekenis wat Jesus Christus vir ons bied moet egter deur die Gees aan jou
geopenbaar word. Vers 10 en verder sê: ”Aan ons dan het God dit deur die Gees
bekend gemaak, want die Gees deursoek alle dinge, ook die diepste geheimenisse
van God. Deur die Gees weet ons wat God ons uit genade geskenk het.”

Die feit dat ons vandag saam uit die Woord lees en die waarheid daarvan oordink, is
‘n gawe van die Gees. Dit kom nie uit onsself nie. Dit gebeur ten spyte van ons
drang om ons lewenssin elders te soek. Dink vandag vir ‘n paar oomblikke terug oor
die geloofspad waarmee jy tot hier gekom het. Waar het alles begin? Waar het die
eerste saad van die geloof ontkiem? Hoe het jy bly glo deur alles wat jy al ervaar
het? Die feit dat ons vandag nog glo, is nie vanselfprekend nie. Almal is al deur
beproewing of tye van vertwyfeling. Daarom moet ons die gawe van geloof koester
en waardeer. “Die mens wat die Gees van God het, kan die waarde van alle dinge
beoordeel.” (vers 15)
Dit is inderdaad ‘n gawe van Bo…om die waarde van alle
dinge te kan beoordeel…en dan te onderskei waarop dit alles aankom.

https://youtu.be/Y6c1SXnTjIk

Mag jou lewe vol betekenis wees!
Wilhelm

Oordenking: Donderdag 15 Julie 2021
Skrif: Ps 12 :1-9

Die situasie in ons land laat ons dink aan die gedig uit 1919, The Second Coming, van die Ierse digter William Butler Yeats. Hy skryf oor die onsekerheid na die eerste Wêreldoorlog. Ek haal enkele verse aan:

“Turning and turning in the widening gyre
The falcon cannot hear the falconer;
Things fall apart; the centre cannot hold;
Mere anarchy is loosed upon the world,
The blood-dimmed tide is loosed, and everywhere
The ceremony of innocence is drowned;
The best lack all conviction, while the worst
Are full of passionate intensity.”


Hy wonder wat sal word van ‘n stukkende wêreld na die verwoesting van die oorlog. Dit is ‘n somber gedig wat spreek van die ontnugtering van wat in die samelewing kan gebeur. Vir ons in ons land was dit ook ‘n skok om te sien hoe mense groot winkels net eenvoudig leegdra. Dit is nie deel van ons waardes of verwysingsraamwerk nie. Die emosies wat hierdie beelde oproep wissel van verslaenheid, vrees, woede en radeloosheid.

Die skok op ‘n samelewing se waardestelsel bring ‘n gevoel van onsekerheid en vrees. Hoeveel deernis ons ookal het vir mense wat swaarkry, ons kan en mag nie plundery en wetteloosheid aanvaar nie. Wat hier gebeur gaan nie oor armoede, ongelykheid of ‘n tekort aan entstof nie. Dit is die gevolg van swak politieke leierskap, korrupte bestuur op alle vlakke en oorbevolking in baie dele van ons land. Dit lei tot ‘n magdom jongmense met geen werk of hoop op ‘n goeie lewe nie. Voeg hierby die korrupte politici wat hulself verryk en mekaar se belange beskerm het, en hierdie inploffing van ‘n stabiele samelewing sonder hoop en waardes was onvermydelik.

Ons bid dat die gewone burgers van ons land nou na vore sal kom en weer die waardes van eerlikheid, verantwoordelikheid en diensbaarheid sal herstel. Mag dit wees dat ‘n nuwe geslag leiers sal opstaan wat hierdie waardes omhels en nie net hulle eie belange bevorder nie. Ons land het genoeg gehad van leiers wat net hulleself verryk.

Ons is kwaad en ontsteld om te sien hoe ons land agteruit gegaan het. Ons bid dat hierdie ‘n draaipunt sal wees na ‘n nuwe môre.

Daarom bid ons Ps 12 vandag saam. Gebruik die psalm as jou gebed.

https://youtu.be/4EoT4cGVs3k

Mooi loop!

Wilhelm

Oordenking: Woensdag, 14 Julie 2021
Ps. 34:16-23

Met die situasie in ons land wat steeds baie gespanne is, is dit nodig vir alle gelowiges om te probeer onderskei waarvoor ons moet bid. Gewoonlik bekyk ‘n mens die situasie wat afspeel vanuit jou perspektief. Jy voel God moet jou beskerm teen die boosheid wat jou en jou eiendom bedreig. Deur die eeue het gelowiges in tye van nood hulle tot God gewend. Hy nooi ons immers om dit te doen!

Dit is uiters ontstellend om die verwoesting van eiendom en winkels te sien. Wetteloosheid bring skade aan die morele vesel van ‘n gemeenskap. Ons voel hoe ons bloed kook as ons die arrogansie sien waarmee mense net plunder en afbreek.

Die dilemma is dat hulle waarskynlik vanuit hulle ervarings en perspektief voel dat hulle die reg het om dit te doen. Hulle voel hulle is beroof, hulle is ontneem van welvaart en hulle leier is onskuldig in die tronk gestop. So regverdig hulle die optrede en voel dat reg uiteindelik geskied.

Daar is egter maniere om na geregtigheid te soek. Deur gesprek, onderhandeling, vreedsame protes en die regsprosesse kan daar in ‘n demokratiese bestel billike oplossing beding word. ‘n Gevoel van onreg of ‘n stelsel wat nie werk nie regverdig nie wat ons nou sien nie. Om af te breek en te steel is nie in God se wil nie.
In vers 16 van Psalm 34 lees ons: “Die Here sorg vir die regverdiges en luister na hulle hulpgeroep. Maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen.” Ons voel verontwaardig en selfs bang vir wat ons tans in ons land sien gebeur. Dit is nou die tyd wat alle christene oor alle grense heen vers 18 vir ons toe-eien: “As die regverdiges om hulp roep, hoor die Here hulle en red hy hulle uit hulle benoudheid. Die Here is naby die gebrokenes, Hy help die moedeloses.”

Christene uit alle groepe se uitdaging is nou om nie kwaad met kwaad te vergeld nie. Ons soek oplossings en vrede. Christene respekteer mekaar en mekaar se besittings. Ons gebruik gesprek en deernis om mekaar te hoor en saam na oplossings te soek. Ons bid in die dae vir ons leiers en vir die polisie en dat daar billike oplossings vir ons land se probleme sal kom.

Die Covid-virus sal ons met entstof beveg en die haat-virus sal ons met begrip en liefde beveg. Daar is nie ‘n ander manier as ons ‘n toekoms in hierdie land vir al ons kinders wil hê nie. Mag gelowiges uit alle groepe nou meer as ooit mekaar se hande vat, na mekaar se nood luister en saam soek na wat reg is. Dan weet ons dat ons nie alleen is nie. Mag die kwaad oorwin word deur die goeie.

https://youtu.be/L7J1_1vAOI4

Veilig bly!
Wilhelm

Oordenking: Dins. 13 Julie 2021
Ps. 25

Ek het die week se oordenkings ‘n rukkie terug geskryf, maar in hierdie laat ure is dit nodig om weer nuut te dink oor ons land en haar mense. Ek herskryf dus laataand hierdie oordenking in die lig van ons land se situasie. Dit is onstellend om te sien hoe wet en orde in duie stort. Dit is ‘n ontnugtering om te sien hoe broos die waardestelsel van ons samelewing is. Ons het nie verwag om te sien hoe duisende mense supermarkte stroop en onbeskaamd met ‘n glimlag op hulle gesigte alles wegdra nie.

Dit is moontlik die ontmaskering van ‘n samelewing waarin duisende mense in armoede leef en sommige in groot welvaart floreer. Ons wat welvarend is kan ons nie indink in die posisie van duisende mense wat nie ‘n behoorlike bestaan kan voer nie. Dit is nie nou die tyd om te oordeel oor wie se skuld dit is nie. Ons as gelowiges weet lankal dat daar ‘n onhanteerbare gaping tussen welvaart en armoede is. Die oplossing daarvoor is nie eenvoudig nie. Die risiko daarvan sien ons nou voor ons afspeel.

Niemand kan dit goedkeur nie. Geen land kan dit bekostig nie. Ons kan nie nou verwyte rondslinger nie. Die voortbestaan van ‘n regverdige en vreedsame samelewing is op die spel. Die waardes van geregtigheid en verantwoordelikheid moet gebalanseer word. Armoede gee jou nie die vryheid om te plunder nie. Welvaart gee jou nie die vryheid om jou te isoleer van 80% van die land se bevolking nie. Ons is teleurgesteld dat baie mense wat voorheen benadeel was, nou floreer sonder om te dink aan hulle wat steeds met min moet klaarkom.
Welvaart hou vir almal versoeking in.

Dit is waar ons as christene fyn moet onderskei. Ons moet wetteloosheid duidelik veroordeel, maar ons moet saam soek na ‘n regverdige samelewing. Ons moet dit doen vanuit ons oortuiging dat ons ‘n roeping in die land het en dat geregtigheid ‘n Bybelse beginsel is, maar ons moet ook staan op die waarde van verantwoordelikheid en respek vir eiendom.

Dit vra van ons as christene in die land om oor emosies, kultuurgrense en politieke sentimente te soek na geregtigheid en vrede. Ek is oortuig dat ons hier ‘n verskil kan maak. Ons kan vanuit ons geloof uitstyg bo ons vrese en vooroordele en begin soek na geregtigeid en vrede. Net gelowiges is instaat om God se wil bo ons eie belange te soek. Dit help ons om na oplossings te soek en nie net ons eie belange te beskerm nie.

Mag ons Vader ons die genade gee om ons woede en verontwaardiging te verwerk en saam te soek na oplossings vir ons land se uitdagings. Mag ons soek na vrede en geregtigheid. Laat ons bid vir ons president en alle leiers wat nou rigting moet gee. Laat ons bou en nie breek nie. Laat ons saamstaan en nie verdeel nie. Laat ons nugter wees en nie emosioneel reageer nie. Laat ons die groter droom vir ons land raaksien en nie net ons eie voordele nie.

In Ps.25 bid Dawid in vers 4-5: “Maak my u wil bekend, Here, leer my u paaie. Laat u waarheid my lei en onderrig my daarin, want u is God, my redder. :12 “As iemand die Here dien, leer Hy hom watter pad hy moet kies, sodat hy voorspoed sal geniet en sy nageslag die land sal bly bewoon.”
Ons as Christene word nou getoets. Ons het ‘n keuse of ons die pad van konflik of geweld sal kies. Ons moet die reg handhaaf, maar ook ons deernis vir duisende mense behou. Ons moet ons woede en verontwaardiging temper deur ons soeke na geregtigeid en vrede. Dit is ‘n pad van selfverloëning en gebed. Dit is ook die pad na vrede en geregtigheid. Ons geloofsvolwassenheid word soos nooit tevore uitgedaag om nou te onderskei waarop dit aankom.

Daarom bid ons saam met Dawid vers 20-22; “Beskerm my en red my, laat my nie beskaamd staan nie, want by U skuil ek. Laat onskuld en opregtheid oor my die wag hou, want op U vertrou ek. O God, red ons uit al ons nood.”

https://youtu.be/5M8426dDv6A

Here gee ons vrede!
Wilhelm

Mobirise
Adres

Bergstraat 55,
Onrusrivier,
7201

Kontak

Epos: info@ngkonrusrivier.co.za
Telefoon: (028) 316-2116